Staatmaker bussie onder die mes

Hyundai voertuie was nog altyd bekend as goeie waarde vir geld en betroubaarheid, maar die hedendaagse geslag modelle tref deesdae ook met goeie ontwerp en afwerking.
Gerine (WE) Hoff
Dirk Gallowitz



Hyundai SA het laas jaar sy gewilde negesitplek-H1-bussie opgekikker en dié staatmakertoerbus beïndruk nou met 'n moderne voorkoms en heelwat lekkerry-geriefies.

Die opgekikkerde H1 se voorkoms is netjies reggetrek. Die herontwerpte vooraansig met nuwe hoofligte en heelwat ekstra chroomafwerking, trek behoorlik aandag onder stylbewuste petrolkoppe.

Hyundai SA het twee enjinweergawes van die toerbusmodel plaaslik bekend gestel, asook 'n paneelwa. Die sessitplek- MultiCab is amptelik nie langer in SA beskikbaar nie, maar die opsie is steeds beskikbaar as 'n spesiale bestelling. Pragtige 17” sierwiele doen diens op die topmodel Elite diesel terwyl die paneelwa steeds op 16” staalvellings ry.

Die H1 2.4 Executive word aangedryf deur 'n 2 359cc viersilinder-petrolenjin wat 126 kW en 225 Nm lewer, en is toegerus met 'n vyfgang-handratkas. Amptelike brandstofverbruik word aangegee as 10,2 l/100 km in 'n gemengde gebruiksiklus.

Die topmodel H1 2.5 Elite word aangedryf deur 'n 2 497cc viersilinder-turbodieselenjin wat 125 kW en 441 Nm lewer via 'n outomatiese vyfgangratkas. Amptelike verbruik is 9,8 l/100 km en aandrywing van al die modelle is deur die agterwiele.



Luuks toegerus

Die luukser diesel H1 Elite word luuks toegerus en die ruim kajuit is standaard afgewerk met leerbekleedsel. By die jongste model is die poeierkwas ook mildelik in die kajuit aangewend en 'n beter infotainment-stelsel met 'n groter raakskerm doen diens middel bo in die voorpaneel.

Die stuurwiel met afstandbeheerskakelaars vir klank, togbeheer en kommunikasie kan nou teleskopies in- en uittrek, asook op en af verstel.

'n Trukamera as parkeerhulp is bygevoeg in die Elite-model, met die beelde wat in die truspieëltjie vertoon word.

Om die H1-bus meer begeerlik en geriefliker as toerbus vir die familie te maak, sluit standaard toerusting op die topmodel nou onder meer in Bluetooth-koppeling, 'n USB-sok, spoedbeheer, ten volle outomatiese lugversorger met klimaatbeheer, en elektries-verstelbare kantspieëls wat kan toevou. 'n Tweede, verkoelde paneelkassie is ook bygevoeg net reg om te verhoed dat die sjokoladestafies smelt of om die lafenisse koel te hou.

Groot skuifdeure aan beide kante maak in- en uitklim vir agterste passasiers prakties en gemaklik.

Vir veiligheid is daar lugsakke, asook ESP (elektroniese stabiliteit program) en uitstekende remme. Vir 'n groot bus het die H1 gemaklik en vinnig gestop wanneer nodig. Ons het gevind dat die H1, ten spyte van sy logge lyf, ook sonder probleme in die knap parkeerspasie van die inkopiesentrum navigeer danksy 'n baie effektiewe kragstuur.

Op die pad het die H1 Elite se 2,5 diesel beïndruk met gemaklike hantering en goeie padgedrag. Die sitposisie is hoog met goeie sigbaarheid vir die bestuurder. Die grootte van die bus mag dalk lomp voorkom, maar paddinamika selfs deur die bergpas se draaie het die teendeel bewys, grootliks te danke aan die McPherson-tipe vering met gasskokbrekers voor en 'n vyfpunt, multiskakel-vering agter wat met oliegevulde skokbrekers toegerus is.

Wat ook tot die H1 se voordeel strek, is dat die diesel gemaklik tot 1,5 ton se vrag kan sleep, asook 842 liter se bagasie in die bagasieruim kan dra. Dit maak 'n langpadtoer met nege insittendes soveel meer prakties en gemaklik.

Die H1-bussie is 'n uitstekende alternatief tot die ander vervaardigers se modelle wat in hierdie segment beskikbaar is.

As jy 'n luukse bussie vir die familie soek, bied die Hyundai H1 Elite Diesel die ideale opsie.

Pryse sluit in Hyundai se 5-jaar/150 000 km-waarborg met 'n addisionele 2 jaar/50 000 km-vervaardigerswaarborg vir die aandryfstelsel, asook 'n 5 jaar/150 000 km-padbystanddiens en 'n 5 jaar/90 000 km-diensplan.