Tref-en-trap motoris bly Kersfees agter tralies

Yolanda Nel
Okahandja • Yolanda Nel
Die bestuurder wat daarvan beskuldig word dat hy vroeër in November ’n fietsryer raakgery het en
van die toneel gevlug het, sal die Kersseisoen agter tralies deurbring.
Jeff Gawiseb het Maandag sy tweede verskyning in die landdroshof op Okahandja gemaak. Daar was
aangedui dat Gawiseb tydens die hofverrigtinge sou pleit, maar die saak is tot 9 Februarie 2022
uitgestel vir verdere ondersoek.
Gawiseb is tydens sy eerste verhoor borgtog ten bedrae van N$4 000 toegestaan. Volgens inligting
wat aan Windhoek Express bekend gemaak is, kon Gawiseb dit egter nie betaal nie en bly hy in
aanhouding. Hy sal dus in aanhouding bly indien die bedrag nie betaal word nie.
Gawiseb word daarvan beskuldig dat hy die fietsryer Christiaan Bean vroeër in November naby die
Ovitoto-afdraai buite Okahandja raakgery het en daarna van die ongelukstoneel gevlug het. Bean is
deur die motor se voorruit geslinger en het binne die motor geland.
Hy is eers in die Okahandja staatshopitaal behandel en gestabliiseer, voor hy per ambulans na die
Lady Pohamba privaathospitaal in die hoofstad oorgeplaas is. Bean se skouer en heup is beide
gebreek en sy knie is ernstig beseer. Hy het al talle operasies ondergaan. Hy was besig met
voorbereidings vir vanjaar se Desert Dash.