Nuwe lewe in kragbootsport geblaas

Watersport
Van die Namibiese veterane het opnuut inspirasie gevind in hul onlangse deelname in Suid-Afrika.
Andrew Poolman

Ná 'n langerige afwesigheid het Namibiese spanne 'n belowende terugkeer tot opblaasbootresiese gemaak tydens ‘n onlangse geleentheid by Theewaterskloofdam by Villiersdorp in die Wes-Kaap.

Hul deelname is hartlik deur die Suid-Afrikaners verwelkom en dit was 'n trotse oomblik om die Namibiese vlag weer by die wegspringpunt te sien, wat die land se hernude betrokkenheid by die sport aandui.

 

Sterk prestasies

Die veteraan Quinton Liebenberg en Keren Robyn Till, wat reeds etlike maande in die sport aktief is, het Namibië in die Lighthouse-boot verteenwoordig.

Die duo het belowende uitslae in onlangse kompetisies behaal, insluitend by die Trans Agulhas-wedren, wat allerweë as die wêreld se moeilikste opblaasbootwedren beskou word. Hul ervaring en kundigheid het bygedra tot indrukwekkende resultate wat vir Namibië ‘n brons van trots is.

 

Nuwe span na vore

Nog 'n Namibiese span was Go 4x4, bestaande uit Leon Smith en Malan Lamprecht, beide ervare veterane van die sport wat vir tussen 17 en 30 jaar uitgetree was en nou na kompetisie teruggekeer.

Ten spyte van die jarelange onderbreking het hulle bewonderenswaardig presteer by die platwater-sirkelwedren.

Hoewel die eerste dag se wedrenne weens ongunstige weer gekanselleer is, het beide die langafstand- en sirkelwedrenne op die tweede dag wel plaasgevind. Die Go 4x4-span se tegniese vaardigheid en ervaring, gelei deur Lionall Ball, het gelei tot 'n goeie derde plek in die tweede uitdunne – 'n indrukwekkende prestasie vir hul eerste uitstappie terug op die water.

 

Ambisies en ontwikkeling

Ná vertonings wat beide spanne aangemoedig het, berei hulle nou voor vir hul volgende kompetisie in Suid-Afrika, met die uiteindelike doel om die sport in Namibië te laat herleef.

Opblaasbootwedrenne is 'n toeskouervriendelike sport gevul met adrenalien, en die herlewing daarvan in Namibië word deur die nuutgestigte Namibiese Opblaasbare Kragbootvereniging (NIPA) gerugsteun.

NIPA se primêre doelwit is om die sport binne Namibië weer op ‘n vooruitstrewende voet te vestig, met die spesifieke mikpunt op deelname aan die Trans Agulhas aan die einde van 2026 en 2027.

Die beheerliggaam loods ook 'n ontwikkelingsprogram om 'n mededingende internasionale reeks teen Suid-Afrika te vestig, asook 'n jaarlange reeks plaaslike klubgeleenthede te organiseer.

Planne word gesmee om nasionale geleenthede van groter omvang aan die kus aan te bied, waar uitstekende toeskouerfasiliteite en toeganklike logistiek reeds gunstige faktore is.

Om die sport finansieel toeganklik en mededingend te hou, het NIPA besluit om uitsluitlik op die standaardklas te fokus vir beide plaaslike en internasionale kompetisies teen Suid-Afrika.

 

Raak betrokke

NIPA nooi enige belangstellendes om via WhatsApp (081 127 9427) in verbinding te tree om die herlewing van die sport te versnel. Tans word agt bote in Suid-Afrika gebou, wat binnekort in Namibië se eie wedrenkalender ingesluit word.