‘Dis net die begin’

Iréne-Mari van der Walt
“Ek is in ekstase; ek is trots verby. Daar bestaan nie eintlik woorde om my gevoelens te beskryf nie.”
So sê die plaaslike operasangeres Janice van Rooy wat een van die vrouehoofrolle in die eerste Namibiese operaproduksie, Chief Hijangua, sal vertolk wanneer die produksie sy debuut in Europa maak.
Janice is tans in Duitsland gebaseer en vertel sy is veral trots op die eg-Namibiese identiteit van die produksie alhoewel dit uit die Europese operastyl verleen is.
“Die opera self in in Otjiherero, wat nog nooit voorheen gesien of gehoor is nie en die melodieë is soortgelyk aan Namibiese folkmusiek,” sê Janice wat ’n musiekdirigent en ’n spraakafrigter het om haar vir die rol voor te berei.
Die storielyn van Chief Hijangua volg Matjiua – Janice se karakter – wat verloof is aan die ouer seun van Chief Hijangua. Sy is egter verlief op die hoofman se jonger seun.
“Die opera self is in talle opsigte eg-Namibies. Die storielyn en ervaringe van die hoofkarakters is Namibies,” sê Janice.
Sy glo dat die eerste Namibiese opera dié genre en teater meer toeganklik en gewild in Namibië gemaak het.
“Ek dink mense begin nou om opera te waardeer. Die wêreldpremière het uitverkoop en ek het nie daardie soort opkoms verwag nie,” sê Janice.
Volgens haar kan die produksie die begin van groter dinge vir plaaslike opera wees.
“Ek dink hierdie is ’n keerpunt vir Namibië. Ek moes altyd Namibië verlaat om my operaloopbaan te volg, maar ek glo die situasie sal nou verbeter,” sê sy.
Opera is volgens Janice nie net goeie vermaak vir Namibiërs nie, maar kan ook as ’n opvoedkundige middel dien, sê sy.
“Ek sou graag ’n kinderopera wou doen wat meer leer oor geskiedkundige oomblikke in Namibië. Ek dink dit sal baie interessant wees,” sê sy en bieg dat geskiedenis as skoolvak haar verveel het.
“Miskien voel ek net so omdat ek altyd gesukkel het, maar ek dink dit sou meer opwindend wees as ons geskiedenis deur musiek, taal en sang leer.”
Janice sê sy is ongelooflik dankbaar vir gasheer-families, asook haar eie familie en die ondersteuningsnetwerk wat haar tot dusver in haar loopbaan ondersteun het.
“Ek dink nie dit kan al ’n volsirkel-oomblik wees nie – nog nie. Ek dink nie ek het al genoeg gedoen om te kan terugkyk nie. Dit kan dalk vir diegene wat my ondersteun het ’n goeie oomblik wees om te kyk hoe ver ek gekom het, maar hierdie is net die begin,” sê sy.
[email protected]