‘Ek gaan verlief raak op dié girl’ – Brendan

Katja se eerste soen met Brendan
Ná die vyfde episode van Op My Eish!, is daar nege dames oor en raak die kompitisie vir Brendan se hart al strawwer.
Kristien Kruger
Die Namibiese skoonheid op kykNET se Op My Eish! seisoen drie, Katja Pieters, wen kykers se harte en moontlik ook dié van die bekende Afrikaanse sanger Brendan Peyper.
“Ek gaan verlief raak op dié girl, o jinne,” was Brendan se woorde aan die kamera tydens sy alleenafspraak met Katja.
Dit was ’n romantiese piekniek onder ’n wilgeboom wat gelei het tot dié twee se eerste soen.
“Jy proe soos Wine Gums,” het Katja spotterig halfpad deur die soen vir Brendan gesê.
Die spontane en selfversekerde Katja was Brendan se tweede soen op die program.
Katja het aan Republikein vertel dat sy glad nie verwag het dat Brendan haar gaan kies vir die alleenafspraak nie.
“Ek dink baie van die meisies wou daai tyd met hom gehad het en ek was meer oopkop daaroor. Toe hy my kies was ek baie opgewonde om te sien dat hy belanggestel het om my beter te leer ken.”
Brendan het glo ook tydens die afspraak vir Katja vertel (en wat nie uitgesaai is nie!) dat hy aanvanklik gedink het hy sou alleen-afsprake met meisies kies wat hy oorweeg om huis toe te stuur om hulle eers beter te leer ken, maar op die ou einde kies hy meisies saam wie hy dit geniet om tyd te spandeer.
“Die date was vir my baie spesiaal. Dit was so natuurlik en ons is gemaklik met mekaar,” vertel Katja.
Tydens die afspraak het Brendan haar oorval met komplimente.
“Hy het gesê dat hy van my hou, dat ek mooi oë het en ’n pragtige vrou is. Hy het goed vir my gesê wat hy nie vir die ander meisies gesê het nie en dit het vir my baie beteken.”
Volgens Katja was die soen ook baie onverwags gewees, maar steeds baie romanties en spesiaal.
“Dit is verseker iets wat mens nie sal vergeet nie.”
BÁIE ROMANSE
Dit was die vyfde episode van die reeks en dié episode was belaai met romanse met Brendan wat drie meisies gesoen het. Nog ’n gunstelingmeisie onder kykers, Rachelle, het ook haar eerste soen met Brendan gedeel voordat hy op die verhoor gegaan het vir ’n optrede.
Die korthaarblondekop Janae was Brendan se eerste soen op die program en sy het in verlede week se episode sommer al haar tweede soen in die sakkie. Met die grapperige Natasha wat huis toe gestuur is, is daar nou slegs nege meisies oor.
[email protected]