Jong Namibiese pianis wys sy slag

Namibië se Samuel Nel se oudisie het geslaag vir deelname aan die Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie in Suid-Afrika.
Die pianis ding vanaf 23 tot 30 September in Kaapstad teen 32 ander musici om die louere mee.
Die kompetisie is tans die enigste van sy soort in Suid-Afrika en bied ’n unieke geleentheid vir kinders van 13 jaar en jonger om teen hul eweknieë van regoor die land mee te ding. Verskeie vorige wenners van die kompetisie het nie net musiek op tersiêre vlak gaan studeer nie, maar het ook al selfs internasionaal bekroonde kunstenaars en opvoeders geword. By geleentheid het ander teruggekeer na die kompetisie as gerekende lede van die juriepaneel.
Die streng program wat van deelnemers vereis word, verseker dat ’n hoë standaard gehandhaaf word, terwyl dit aan hulle ’n platform bied vanwaar hulle onskatbare prestasie-ervaring kan opdoen.
Die Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie word deur die Tygerberg-tak van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers (SASMT) gereël en aangebied. Dit is deur prof Hubert van der Spuy - voormalige voorsitter van die SASMT (Tygerbergtak) en gerespekteerde musiekopvoeder - geïnspireer. Die eerste kompetisie het in 1989 plaasgevind.