Kadhikwa vir internasionale toekenning gekortlys

Hoewel sy nog nooit ’n formele werk beklee het nie ten spyte daarvan dat sy ’n gegradueerde van die Universiteit van Namibië (UNAM) is met ’n Baccalaureusgraad in Handel, deel Twapewa Kadhikwa graag met ander die lesse, opinies en geheime wat sy deur die jare geleer het.
Hierdie lesse wissel van die oprigting en bestuur van verskillende besighede, waarvan sommige misluk het en ander groot suksesse geword het.
Dit is juis te wyte hieraan dat die stigter van die Olafika SME Development and Mentorship Programme benoem is as deel van die 12de uitgawe van die African Achievers Awards (AAA).
Die tema vir vanjaar se seremonie en beraad, “Volhoubare Ontwikkeling in Afrika deur innovasie, bewaring en groen energie”, vind op 20 September by die Britse Parlement in Londen plaas.
Die toekennings vereer Afrika se top presteerders en gemeenskapsbouers en word beskryf as een van die grootste byeenkomste van invloedryke Afrika-presteerders wat die tydskrif Forbes as een van die mees gesogte geleenthede vir die vasteland beskou.
Gebore en getoë in Katutura, is Twapewa ’n gerekende entrepreneur, openbare spreker, mentor, skrywer en filantroop. Twapewa is ook ’n gesogte spreker in Namibië, die streek, die vasteland en die res van die wêreld op die gebied van Entrepreneurskap, Leierskap en Vroue- en Jeugbemagtiging.
Sy pleit steeds vir jongmense se deelname aan die ekonomiese diskoers van hul onderskeie lande.
Twapewa dien as die voorsitter van die Kadhikwa Groep van Maatskappye wat belang het in gasvryheid, landboubesigheid, kapasiteitsontwikkeling en eiendomsontwikkeling. Sy is ’n nie-uitvoerende direkteur van die uraan-eksplorasiemaatskappy Bannerman Resources, en dien as die adjunk-voorsitter van die Namibië-nywerheidsontwikkelingsagentskap NIDA.
Ander hoogtepunte is haar toekenning as Junior Sakevrou van die Jaar in 2007, dat sy in 2013 as laureaat opgeneem is in die Namibia Business Hall of Fame, en aangewys is as “Rising entrepreneur” tydens die 2018 uitgawe van die Afrika Vroueberaad.