Leoné uiteindelik op pad na Indië

Kristien Kruger
“Ek het omtrent grondpad geloop om te kom tot waar ek vandag is, maar ek het nog altyd daarvan gedroom om my land internasionaal te verteenwoordig.”
So het die Namibiese skoonheid en eerste prinses in die 2022 Mej. Namibië, Leoné van Jaarsveld, gesê wat vandag na Indië vertrek om aan die Mej. Wêreld-kompetisie deel te neem.
Byna ’n jaar en ’n half het verloop sedert Leoné se kroning en die feit dat die kompetisie vyf keer uitgestel is en verskeie kere van gasheerland verander het, was ’n groot struikelblok vir haar voorbereidings.
“’n Jaar en vier maande is lank om voortdurend die publiek op hoogte te hou, jouself gemotiveerd te hou en om jou waardes en perspektief in plek te hou vir hoekom jy ingeskryf het.”
Dié kompetisie sal vir die volgende maand plaasvind met die finale kroning wat vir 9 Maart geskeduleer is.
‘Wat as ek alles gee?’
Leoné vertel dat sy in 2017 – op die ouderdom van 21 – die eerste keer vir Mej. Namibië ingeskryf. Sy het die top-12 gehaal en is as Mej. Debutant aangewys.
“Ná dit het die gedagte heeltyd in my rondgewandel, wat as ek alles gee? Wat kan dan gebeur?”
In 2021 het Leoné aan die Mej. Supranational Namibia-kompetisie deelgeneem waar sy ’n plek in die topvyf verower het.
“Dit was ’n besonderse lewenservaring en ek het elke oomblik saam met die ander dinamiese vroue geniet en ek hou nou nog vas aan daardie herinneringe.”
Leoné praat openhartig oor die vraag wat sy op die verhoor tydens dié kompetisie ontvang het, wat haar heeltemal onkant gevang het.
“Toe dink ek by myself, wat as ek bietjie beter voorberei het?” en gebruik dit toe as motivering om in 2022 vir Mej. Namibië in te skryf.
Trots Namibies
“Ek was bevoorreg genoeg om oraloor die land te kon skoolgaan – van die Noorde tot Stampriet en van daar na Okahandja tot by die kus waar ek gematrikuleer het. Ek is verlief op my land en alles wat dit verteenwoordig.”
Leoné se vyf tasse waarmee sy vandag op die vliegtuig klim, kreun van Namibiese produkte – ’n plaaslike ontwerper, Petrus Laubscher, het haar rokke gemaak en haar juwele is van Stergiadis Leather Productions and Jewellery Creations. Sy het selfs haar vellies ingepak.
“Ek gaan as Namibië en dit maak nie sin om dan ’n internasionale vervaardiger te gebruik vir rokke, grimering en juwele nie. Ek glo van die begin af dat Namibië op dieselfde standaard as ander internasionale lande is. Dit is my trots om dit op ’n internasionale verhoog ten toon te stel,” vertel Leoné.
Meer as net 'n kostuum
Leoné se nasionale kostuum het ’n korset wat met blink stene versier is aangesien Namibië bekend is vir sy stene en diamante.
Die kostuum se romp verteenwoordig die land se diverse landskap en vertoon ’n foto van Namibië deur die lens van ’n plaaslike fotograaf.
Die fokuspunt van die kostuum is egter die byvoegsels wat ’n ietermagôvel naboots. ’n Unieke juweelstuk is ook gemaak wat sy om haar arm dra. Dié juweelstuk kan gekoop word en 50% van die inkomste is geoormerk vir ’n bewaringstrust en geaffilieerde niewinsgewende organisasies om die bekamping van stropery en bewaring van ietermagôs te ondersteun.
“Dis nie net ’n kostuum wat Namibië verteenwoordig nie, maar dit kan ook ’n verskil maak.”
Mej. Wêreld-kategorieë
Volgens Leoné word vanjaar se Mej. Wêreld-kompetisie in vyf kategorieë verdeel waarvolgens deelnemers punte toegeken sal word.
Een van die kategorieë is “Skoonheid met ’n doel” en deelnemers word beoordeel op grond van projekte wat hulle plaaslik van stapel gestuur het en die impak en volhoubaarheid daarvan.
Die tweede kategorie is ’n sportuitdaging wat Indië se nasionale sport, krieket, sal insluit asook ander sportsoorte en aktiwiteite wat die deelnemers se vaardighede sal toets. Die deelnemers wat dié uitdaging wen, is outomaties verseker van ’n plek in die top-30.
Die derde kategorie staan bekend as “kop-aan-kop” en deelnemers sal oor verskeie wêreldkwessies debateer.
Die laaste twee kategorieë bestaan uit onderhoude en ’n geleentheid vir deelnemers om hulle talente ten toon te stel.
[email protected]