Monaco het ’n stukkie van Ruben se hart

Henriette Lamprecht
Natuurlik is sy ‘ousus’ Cindy die mees beroemde en gewilde lid van van sy span diere wie se kaskenades net op Instagram deur meer as 1,5 miljoen mense van hier tot in Timbaktoe gevolg word.
Maar dié keer het Cindy die mak bobbejaan by die huis gebly, terwyl Ruben Lambrechts in Monaco koninklike skouers gaan skuur het.
Ruben is deur die Princess Charlene of Monaco Foundation genooi om saam met ander glanspersoonlikhede aan die Princess of Monaco Cup deel te neem wat geld vir die oud-Suid-Afrikaner en nou prinses van Monaco, Charlene, se trust insamel. Die gholftoernooi met 18 spanne bestaande uit sportsterre, is vir die vierde keer aangebied.
Dit was beslis een van die werklike hoogtepunte tot dusver in sy lewe, vertel Ruben op sy blad.
Buiten om by die mooie Monte Carlo-gholfklub te kon speel en inspirerende mense te ontmoet, het hy selfs ’n kolhou probeer slaan voor die legendariese Monte Carlo Casino! Dit was juis dié stigting en hul ongelooflike werk oraloor die wêreld en in Afrika wat Ruben sowat ’n jaar gelede geïnspireer het om die Ruben Lambrechts Foundation te begin om mense en diere in nood in Namibië te ondersteun.