’n Bruid se beste vriend

Die vrou agter "Vroukie"
Kristien Kruger
Om verloof te raak is soos ’n sprokiesverhaal, maar om ’n troue te beplan is nie altyd maanskyn en rose nie.
Zanria van der Westhuizen het egter die perfekte hulpbron saamgestel om bruide te help om self vir dié groot dag te beplan.
Sy is die vrou agter “Vroukie” – ’n gids om troues te beplan met verskeie afdelings wat alle aspekte van dié dag insluit.
“Dis elke meisie se grootste droom van kleins af – daardie perfekte wit trourok en sprokiesdag. Soos baie bruide, myself ingesluit, het die situasie my oorweldig die dag toe ek verloof geraak het en ek het nie geweet waar om te begin nie.
“As jy daardie bruid is wat nie weet waar om te begin nie en as jy bang is jy vergeet iets, dink ek ‘Vroukie’ is die perfekte boek vir jou,” het sy gesê.
Die boek beoog om ’n bruid by te staan vanaf die dag van haar verlowing tot die wittebrood en gee selfs raad oor hoe om jou van te verander.
“Ek het elke prentjie self geteken en elke woord self geskryf. Dit het ook baie gehelp dat ons in November 2019 getroud is en baie van die beplanning was nog vars in my geheue toe ons in 2020 met die boek begin het. Ek kon die goed waarmee ek gesukkel het en die goed wat ek opgesoek het, bysit. Ek kon alles in die boek vasvang,” vertel Zanria.
Sy is ’n Namibiër wat tans in Bloemfontein woon en verkoop al vir drie jaar die “Vroukie”-beplanners in Namibië en Suid-Afrika.
“Die boek bevat alles wat jy nodig het om jou hele troue te beplan,” verseker Zanria.
Sy is in beheer van “Vroukie” en met haar ma se hulp kan sy die boeke in Namibië beskikbaar stel.
Haar man, die Namibiese rugbyspeler Louis van der Westhuizen, wat tans by die Cheetahs gekontrakteur is, ondersteun haar ook.
“As jy my man vra, gaan hy vir jou sê hy is die bestuurder en as jy my ma vra, gaan sy sê sy is. So tans is dit ek en my twee bestuurders,” sê Zanria tong in die kies.
Die begin
Een van Zanria se vriendinne het in 2020 in Namibië verloof geraak terwyl hulle in Suid-Afrika gewoon het.
Sy wou graag vir haar iets gee om haar te help met die beplanning van haar troue en so het die idee van ’n boek ontstaan.
“Met baie motivering van my man se kant af, het ek besluit om die boek saam te stel. Ons het ‘Vroukie’ op 30 November 2020 bekendgestel – op ons troudag wat vir ons baie spesiaal was.”
Buiten vir dié boeke, verkoop Zanria ook “Vroukie”-belofteboekies.
“Ons het die boekies verlede jaar bekend gestel en dit is vir die bruid en bruidegom om hulle beloftes in te skryf.
“Die boekies is ontwerp sodat hulle dit saam met hulle in die kerk kan vat en daaruit kan lees. Dit is kleiner boekies en is daarom maklik om in ’n sak te kan pas.”
Zanria sê bedrywighede was die afgelope jaar stadiger as gewoonlik met hulle hande wat vol was ná die geboorte van hul eerste seuntjie. Sy sien egter uit na die nuwe jaar en beplan reeds aan nog ’n opwindende en unieke produk.
Zanria vertel elke keer as Louis moes aandui of hulle ’n geleentheid gaan bywoon, het hy gesê hy en sy vroutjie sal daar wees.
Sy sê dit het ’n grap tussen hulle vriende geword, wat elke keer gevra het of “vroutjie” ook gaan kom.
Zanria en Louis het gedink om die boek “Vroutjie” te noem, maar uiteindelik op “Vroukie” besluit, omdat dit verwys na “vrou en kie” en daardeur word die man ook ingesluit.
En vir die strooimeisies
“Ons is ook besig om ’n boek vir strooimeisies saam te stel om te help met die beplanning van hulle take, soos die kombuistee en hennepartytjie.”
“Wanneer ons daarmee klaar is, sal ons begin met een wat fokus op die strooijonkers en hulle verantwoordelikhede,” het Zanria gesê.
Ander opwindende idees wat sy vir 2024 beplan, is om van kourierdienste in Namibië gebruik te maak om dit makliker vir mense in die Noorde en die Suide te maak om die boek in die hande te kry.
Bestellings kan op “Vroukie” se webtuiste geplaas word by www.vroukie.com.
“Die boeke is dadelik in Namibië beskikbaar met geen wagtyd nie,” sê Zanria.
[email protected]