’n Mens is nooit te oud om te leer

Tanja Bause
“Dis ’n gawe wat die Here vir my gegee het. Ek het nou eers besef dat ek die gawe het, maar ek dank die Here regtigwaar vir dit. Dis net ek wat dit eers laat besef het,” het Rudolf Meyer (61) van Hentiesbaai gesê.
Rudolf het drie maande gelede begin om onder andere bote, speseryrakke, pophuise en kruise vir grafte uit hout te maak.
Hy is in Mariental gebore en het sy lewe lank daar gebly.
“Ek het siek geword en is met kanker gediagnoseer. Ek het vir my dogter, Carmen, in Hentiesbaai vertel en sy het gesê ek moet soontoe trek sodat ek naby haar kan wees en sy my kan versorg.”
Rudolf sê hy het nog altyd die mans dopgehou wat kunswerke uit hout maak.
“Toe ek in Henties aangekom het, het ek nie ’n werk gehad nie. Ek het besluit om met hout te begin werk om myself besig te hou. Ek het heel eerste ’n boot gemaak. Toe dit klaar was, het Carmen gesê ek kan dit verkoop omdat dit so netjies gemaak is. Sodoende kan ek ook vir haar en haar Happy Land Safehouse ondersteun.”
Hier gee Carmen en haar man vir kwesbare en weerlose kinders ’n nuwe tuiste. Baie van die groter seuns stel in Rudolf se houtwerk belang.
“Ek leer nou ook vir die kinders wat belangstel. Ek leer hulle om iets met hulle hande te maak om hulle vir die toekoms voor te berei. As hulle dalk nie ’n werk kan kry nie, kan hulle nog steeds iets met hulle hande skep. Hulle kan hulle hande gebruik om ’n bestaan te maak.”
Hy het self nooit opleiding in houtwerk ontvang nie. Hy het die boot van ’n foto af gemaak en homself alles geleer wat hy nou weet en doen.
“Ek het ’n ystersaag waarmee ek die hout saag. Die hout is offcuts wat ek van die plaaslike skrynwerk-onderneming kry. Ek het nie nou die kapitaal om hout en gereedskap aan te koop nie. Ek gaan aan met wat ek het en kry.”
Volgens hom kan enigiemand enige iets doen as hulle wil.
“’n Mens is nooit te oud om iets nuuts te leer nie. Om iets met jou hande te leer doen, net solank die wilskrag daar is, kan jy dit doen.
“Ek sal aangaan met die houtwerk vir die tydjie wat ek nog oorhet en soveel maak soos wat ek kan. Ek gaan ook soveel kennis as moontlik aan die kinders oordra. Ek sal aangaan en ’n bestaan maak en vir Carmen ondersteun so lank as wat ek kan.”
Die organiseerder van die Erongo Sake- en Toerisme-ekspo wat van 25 tot 28 Oktober in Walvisbaai plaasvind, Desiree Stevens, het hom ’n gratis stalletjie by die ekspo aangebied.
“Ek is so dankbaar vir die geleentheid en kan nie wag om my items aan die mense te wys nie. As enigiemand iets van hout gemaak wil hê, kan hulle daar met my kom gesels of vir my ’n foto wys van wat hulle soek.” – [email protected]