Ouma Lottie se hande staan vir niks verkeerd

Tanja Bause
“Ek is nog nie oud nie, en op 90 beteken ek nog iets. As ek nog vir een of 100 honde kussings kan maak, sal ek dit doen solank as wat ek kan,” het ouma Dorothea Tietz (90), ook bekend as Dorlie of ouma Lottie, gesê.
Sy het verlede week 13 swartsakke vol kussings aan drie verskillende dierebeskermingsorganisasies gegee.
“Honde en katte op Keetmanshoop, Gobabis, Omaruru, Outjo, Otjiwarongo, Kamanjab, Oshana, Walvisbaai, Swakopmund en Hentiesbaai slaap sag op my kussings.”
Ouma Lottie is blind in haar linkeroog en sy het net 60% sig in haar regteroog, maar dit keer haar nie om haar naaldwerkmasjien te gebruik nie.
“Ek doen al naaldwerk vandat ek ’n klein meisie was. My suster was 11 jaar ouer as ek en sy het baie goed naaldwerk gedoen. Ek onthou hoe ek haar naaldwerk gevat en verder gewerk het. Sy was altyd baie kwaad vir my, maar so het ek geleer. Ek het ook al sewe my kinders se klere self gemaak. Ek gebruik my wysvinger om vir my die pad op die materiaal aan te wys terwyl ek werk. Ek voel die soom.”
Sowat drie jaar gelede het ouma Lottie se jongste dogter, Anuschka Hurter, die huis opgeruim en op ou materiaal afgekom.
“Ek wou dit nie weggooi nie en het vir Cat Adams gekontak. Sy doen baie vrywillige werk en sy het gevra of ouma nie hondekussings wil maak as sy nog materiaal vir haar bring nie. Ma is ontsettend lief vir diere en so het die hondekussingfabriek begin. Ma vat enige materiaal en dit word of opgesnipper en as vulsel gebruik of sy maak ’n kussingsloop van dit. Niks word gemors nie,” het Hurter gesê.
Ouma Lottie maak tot 15 kussings op ’n dag.
“Dit is lekker wanneer ek die skêr in die hand het en as ek begin snipper kan niks my keer nie. Ek is dankbaar vir enige ou materiaal en sal alles gebruik om nog ’n hond se lewe bietjie makliker, sagter en warmer te maak.”
Ouma Lottie se grootste wens is dat dieremishandeling moet staak, want “hulle kan nie vir hulself praat nie en hulle verdien dit nie. Dit is ons mense se plig om diere op te pas en te versorg.”
[email protected]