Perdfris en gesond op 93
Oom Eckard le Roux onthou ’n tyd toe sy pa as polisieman op ’n kameel rondgery het om sy gemeenskap veilig te hou. Hy was ook by toe die eerste polisiebakkie van die stoomtrein op Gobabis afgelaai is, maar hy laat nie toe dat die jare hom verouder nie.Dié afgetrede rekenmeester ry steeds verskeie kere per week met sy fiets na die lughawe naby Gobabis of voltooi ’n rit om die dorp. “Ek sien baie van die mense wat hier bly [by sy aftreeoord] tree af, doen niks en dan sterf hulle,” sê oom Eckard.
Hy sê hy glo dit is juis sy fiksheid en sy God wat hom tot by die rype ouderdom van 93 gebring het.
Behalwe vir fietsry, doen oom Eckard ook ander oefeninge om sy liggaam fiks en gesond te hou. “Ek probeer om gereeld fiets te gaan ry en ek oefen my maagspiere as ek saans sit en TV kyk deur my bene op te lig. Ek strek ook deur 100 keer met my vingerpunte aan die grond te raak,” sê hy.
Oom Eckard het egter sedert sy jong dae fiks gebly. “Ek het destyds rugby vir die destydse SWA gespeel. Ek het in 1960 ’n toets teen die All Blacks in Windhoek gespeel en later ook teen die Leeus van Engeland,” sê hy.
Oom Eckard het in 1963 opgehou rugby speel toe hy na Welkom, Virginia, oorgeplaas is vir sy werk. Hy het destyds by die Volkskas-bank gewerk.
“Elke nou en dan het hulle vir ons ’n vorm gegee waar hulle ons onder andere gevra het of ons êrens heen verplaas wou word. Ek het aanvanklik gesê ek sou na enige plek in Namibië oorgeplaas word, maar ’n vriend wat ook ’n kollega was, het gesê dit sou my kanse op ’n bevordering belemmer, so ek moet eerder sê hulle kan my na enige plek verplaas.”
Oom Eckard het in 1950 aan Windhoek Hoërskool gematrikuleer en in 1975 afgetree. Dit was egter tuis waar hy sy eerste vrou, Catherina Jacoba Steenkamp, ontmoet het, waar sy as ’n telefoonoperateur gewerk het. “Destyds moes jy nog vra ‘nommer asseblief’,” onthou oom Eckard met ’n glimlag. Hulle was 46 jaar getroud.
Nadat sy eerste vrou oorlede is, het oom Eckard met Katarina Johanna Botha getrou. Hulle was 21 jaar saam. Oom Eckard sê egter dat hy deesdae ’n ietwat eensame lewe in sy aftreeoord lei. Ek is stoksielalleen hier en dis glad nie lekker nie,” sê hy. – [email protected]