Ronelle vereer met Prestige-toekenning

Henriette Lamprecht
Woorde, en hoe dit ons leefwêreld, gedagtewêreld en ook die abstrakte verstaanbaar maak, was van altyd af haar passie.
Voeg daarby ’n nuuskierige gees en belangstelling in aktuele gebeure, en joernalistiek was ’n onafwendbare loopbaankeuse. Haar liefde vir Afrikaans, van die gesproke en geskrewe woord tot sang en toneel maak dat sy 12 jaar gelede as een van die stigters die Windhoek Woordfees in die lewe roep en haar geliefde moedertaal ook op so manier lewe gee.
In erkenning aan die verskil wat sy vir Afrikaans en sy mense in Namibië maak, het Netwerk Namibië Ronelle Rademeyer, Republikein se voormalige nuusredakteur en formidabele joernalis en woordsmid met ’n Prestige-kultuurtoekenning vereer.
Haar loopbaan as joernalis skop 33 jaar gelede by Beeld se kantoor in Pretoria af en is sy ook vir ’n paar jaar deel van die tydskrif Sarie se redaksie in Sandton. In 1998 verhuis sy en haar gesin na Windhoek waar sy eers net ma en huisvrou is, maar weer die joernalistiek se roepstem antwoord en inval by Republikein waar sy tot en met haar uittrede nuusredakteur was.
In 1999 nader Media24 haar om saam met Republikein betrokke te raak by die heel eerste Windhoek Kunstefees. Dit was in die beginjare van die feeskultuur en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) was toe nog in haar kinderskoene. Verskeie groot name maak hul buiging op dié fees wat in die destydse SKW-saal aangebied is. Toe Media24 egter later onttrek, loop die fees dood, maar in 2013 besluit Ronelle en dr. Chrisna Beuke-Muir dit is hoogtyd dat Windhoekers weer fees hou! Met Republikein as mediaborg en Chrisna se ontstuitbare energie, is die Windhoek Woordfees vanjaar 12 jaar oud en die produksies lok vol sale.
Ronelle is steeds betrokke om te verseker dat die aanvanklike idee van die Windhoek Woordfees gehandhaaf word met gehalteproduksies en kunstenaars wat Namibiërs vermaak.
Sy is ʼn plaasnooi van die Otjiwarongo-omgewing en het haar laerskoolloopbaan op Otjiwarongo voltooi. As die oudste van vyf dogters, is sy in standerd 8 (graad 10) na die Hugenote Hoërskool in Wellington waar sy gematrikuleer het. Sy gradueer aan die Universiteit Stellenbosch. Ronelle is getroud met Lourens en hulle het twee seuns, Wilhelm (28) en André (25).
[email protected]