Vaarwel, formidabele nuusvrou

Henriette Lamprecht
Ikoon. Inspirasie. Briljant in haar werk en mentor vir menigte. Formidabele joernalis, een van die mooiste mense in karakter en siel.
’n Waardige Brave Warrior. Iemand wat almal gewys het wat omgee en menswees beteken. Iemand wat geleef het vir haar manne.
Só het Namibiërs in hul honderde gereageer op die dood van Republikein se voormalige nuusredakteur Ronelle Rademeyer wat Maandagaand in Windhoek oorlede is.
Uit die verskeie boodskappe was dit duidelik dat buiten die formidabele en vreeslose joernalis wat sy was, dit ook haar empatie, deernis en menswees was wat by soveel vasgesteek het.
“Jy was vir ons ’n leier, altyd ’n inspirasie, ’n lekker “wingman”, ons kompas, die stem van redelikheid, ’n waaghals binne perke, ’n mentor, die een wat jy bel vir raad, maar bowenal ’n baie spesiale vriendin wat ’n massiewe leemte in ons lewens laat,” sê Elizma Theron, die voorsitter van die Windhoek Woordfees waarvan Ronelle die medestigter was.
In haar kapasiteit as bestuurder van Netwerk Namibië, sê Elizma die organisasie het die grootste agting en respek gehad vir die rol wat Ronelle gespeel het in die bou van Afrikaans in Namibië in haar posisie as nuusredakteur van Republikein en ook die voorsitter van die Windhoek Woordfees, waarvoor sy ook onlangs vereer is.
“Sy was ’n sleutelfiguur in enige gesprekke oor ons taal en iemand wie se opinie hoog geag is.”
Die ministerie van landbou, water en grondhervorming het by monde van sy woordvoerder, Jona Musheko, gesê as ’n toegewyde joernalis wat landbounuus vir Republikein behartig het, “het Ronelle onvergeetlike bydraes gelewer tot die verspreiding van inligting in die landbousektor”.
Joernalis met hart en siel
Deon Steyn het namens die Afrikaanse Wikipedia hul innige meegevoel betuig, terwyl die Redakteursforum van Namibië (EFN) van wie Ronelle ’n uitvoerende lid en voormalige sekretaris-generaal was by monde van sy voorsitter, Frank Steffen, haar beskryf het as ’n joernalis met hart en siel en wat bekend was vir haar professionele gedrag en insig. Eienskappe wat gemaak het dat haar eweknieë en kollegas haar hoogs gerespekteer het. Hy het ook verwys na die beduidende rol wat sy gespeel het in die organisering van die jaarlikse aanwysing van die EFN se Joernaliste van die Jaar-toekennings.
Die Namibia Media Professionals Union (Nampu) het op hul beurt Ronelle as ’n buitengewone joernalis en nuusredakteur beskryf wat nie net die verpersoonliking van harde werk was nie, maar ook grasie, empatie en begrip uitgestraal het.
“Sy was uiters professioneel en het diepte en insig na elke storie gebring wat sy gedek het. Haar bydraes tot die joernalistieke bedryf in Namibië is onmeetbaar.”
Nampu se waarnemende sekretaris-generaal, Jemima Beukes, sê Ronelle het ’n ongelooflike vermoë gehad om almal waardevol en ingesluit te laat voel.
“Sy het ’n sagte hart gehad en was toeganklik, altyd gereed om te luister of om te help. Haar empatie en werklike omgee vir haar kollegas het haar ’n geliefde figuur in die media-gemeenskap gemaak.”
Namibiese media, in besonder die landbousektor, het dié grootste joernalis verloor, sê Elvira Hattingh, vriendin en oudkollega wat saam met Ronelle die landbousektor gedek het.
“Ek het my grootste mentor, ons ‘koerant-ma’, ’n mens van my asem verloor!”
Toe sy 12 jaar gelede as ’n jong, onervare joernalis by Republikein ingestap het, was dit dié “moederhen” wat met groot geduld en liefde aan haar talente geslyp het, vertel Elvira.
“Albei eintlik plaaskinders, kon ons sy aan sy die landbousektor bedien – Ronelle as ’n formidabele joernalis wat met vlymskerp vernuf en tog soveel omgee aan elke storie beitel.”
Vir Elvira was Ronelle deernis en liefde en is sy soveel aan haar verskuldig. “Telkemale het sy my trane afgedroog, selfs as sy genoeg van haar eie gehad het. ’n Groot deel van wat ek is en kon word is danksy haar. Ek dank God dat Hy haar ook vir my geleen het.”
'Pynlose vrede'
’n Voormalige nuusredakteur van Republikein, Christo Retief, skryf uit Hentiesbaai: “Aai Ronelle, daar is geen woorde om te beskryf hoe ek voel oor hierdie tyding nie! Jy was in alle opsigte ’n mooi mens. Maar meer as dit. . . jy was ’n goeie vriendin, ’n fantastiese kollega en my beste skaapbraai- en potmakervennoot.” Ronelle en Christo het verskeie kere aan die voormalige Meatco-braaikompetisies namens Republikein deelgeneem en met die louere weggestap.
Die oudredakteur van Erongo, wyle Des Erasmus se vrou en oudkollega van Ronelle, Anneli Erasmus, skryf uit Swakopmund: “Ronelle, uiteindelik vaar jy op ’n kalm see na die stormwaters wat jy vir so lank moes trotseer. Ons treur oor jou, maar gun jou die pynlose vrede. Jou spore lê diep in ons land en in ons harte. Ons sal nie vergeet nie.”
Francoise Steynberg, jarelange kollega en vriendin, vertel toe sy 15 jaar gelede van Taiwan teruggekeer het, was sy blinkoog en opgewonde om saam met dié bekende en hoogs intelligente Ronelle Rademeyer van Sarie by Republikein te werk – die dame van joernalistiek.
“Sy was nie net my nuusredakteur, mentor, ’n uitstekende spanleier en vriendin nie. Ons was deel van die hegste band van koerantsusters en nuushonde in die geskiedenis van Republikein wat niks en niemand, behalwe die dood, ooit sou breek nie.”
Sy was die beiteltjie wat my mens- en joernaliswees gevorm het, sê Henriette Lamprecht, nuusredakteur en vriendin.
“Ons het baie saam gelag, baie saam gehuil, so baie gedeel en saam verskriklik hard gewerk. Vir altyd sal ek in werk en in wees dink ‘wat sou Ronelle doen?’ Mag sy weet waar sy is dat dit sy is wat my sterk gemaak het.”
Ronelle word oorleef deur haar man Lourens en hul seuns Wilhelm en André, haar ouers en haar vier susters, hul mans en kinders.
[email protected]