Werk is tannie Nella se geheim tot ’n eeu

Iréne-Mari van der Walt
Werk altyd en gaan gereeld kerk toe.
Dít is die wyse raad van tannie Nella van Schalkwyk, ’n inwoner van Gobabis, wat gister haar 100ste verjaarsdag gevier het. Tannie Nella is op 21 Julie 1925 in Calvinia, Suid-Afrika gebore en het as ’n jong meisie in Windhoek by Acme-kafee gewerk. Dit is ook hier waar sy haar man Kola ontmoet het.
Ná hul troue in die hoofstad het die egpaar later na haar skoonouers se plaas naby Leonardville getrek, totdat hulle ’n holte vir hul voet op hul eie plaas De Hoek gevind het. In die sestigerjare trek die egpaar terug Gobabis toe waar sy ’n dagsorgsentrum bedryf het en in die hele kontrei bekend was vir haar gebak.
In die tagtigs verhuis die Van Schalkwyks na die Hardapskema by Mariental waar tannie Nella haarself met ’n groentetuin en haar hoenders besig hou. Die egpaar sou later weer terugtrek Gobabis toe.
Haar pa was baie streng, vertel tannie Nella. “Hy het altyd gesorg dat ons netjies werk. Ons dogters het dikwels toe ons grootgeword het op die plaas gehelp met die seuns se take.”
Haar ouers was baie goed vir hulle en sy dank die Here dat sy soveel van die boerdery kon leer. “My man het nie met die boerdery grootgeword nie. Toe hy begin boer, kon ek hom leer,” sê tannie Nella.
Sy is geseën met ses kinders, vier seuns en twee dogters. Drie van haar kinders is reeds oorlede. Die trotse ouma het 20 kleinkinders, 24 agterkleinkinders en een agter-agterkleinkind.