!Aimab Superfarm trots op groei

Mariental juig oor reën
Kuddegroei het van 17% tot 20% per jaar toegeneem.
Francoise Steynberg
Ondanks kommer oor die lae vlak van die Hardapdam by Mariental, is die bestuur van die !Aimab Superfarm optimis­ties positief oor die toekoms van die melkplaas.

“Ons het geweldige groei en goeie resultate die afgelope twee jaar gehad en die produksiesyfer is optimaal mededingend met baie melkplase in Afrika,” het Franz Homsek, die hoofbedryfsbestuurder van !Aimab aan Agri Monitor gesê.

Die melkplaas, wat deel is van die Ohlthaver en List-groep (O&L), se kuddegroei het volgens Homsek van 17% tot 20% per jaar toegeneem van 1 680 tot 2 600 vroulike diere.

Tans is daar 1 250 diere in melk by !Aimab waar melkproduksie as baie goed beskryf word.

“Ondanks die uitdagings van die hoë voerkoste en konstante verhogings wat ons moet absorbeer, gaan dit goed,” sê Homsek.

“Ons het die ondenkbare reggekry. Ons het uitdagings met uiterste hitte-, grond-, en klimaatstoestande, maar die gesondheid en groei van ons kudde, die produksie en die kwalititeit van ons melk is voorwaar iets om op trots te wees.”

Homsek sê !Aimab kry dit reg om die melk uit die koei in die bottel binne 24 uur te kry.

“Kwaliteit is die hoeksteen van ons besigheid. Die kwaliteit van ons rou melk kan meeding met baie melkplase in Afrika.”

Hy meen die fokuspunt is om die Namibiese verbruiker terug te lok met die hoë kwaliteit en langlewendheid van die melk op die rakke.

HARDAPDAM SE DILEMMA

Boere en inwoners van Mariental het Woensdag gejuig toe 55 mm reën op die Suide-dorp uitgesak het. Skade is aangerig toe die Aubrivier noord van Mariental onder meer die gholfklub oorstroom het. Ondanks die skade, is die hoop uitgespreek dat genoeg water in die dam sal invloei.

Homsek het beklemtoon die Har­dapdam is die grootste lewensaar van Mariental, wat uit ’n ekonomiese oogpunt ’n groot impak op die gebied het.

!Aimab se melkkudde en voerproduksie is afhanklik van water uit die dam.

!Aimab produseer self 10 000 tot 15 000 ton voer en koop ook voer by omliggende boere aan.

Indien daar nie voldoende invloei in die dam is nie en besproeiing aan die skemaboere gestaak moet word, sal miljoene Namibiese dollar aan bykomende koste soos invoerkoste vir voer en lusern bestee moet word.

“Die konsep is kommerwekkend, maar ’n ekstreme faktor wat ons moet bestuur.”

Volgens Homsek sluit hul langtermyn planne vir water in om nie-lakterende diere na omliggende plase vir beter weiding te verskuif en boorgate te boor.

Hy hoop op ’n volhoubare langtermyn oplossing vir die pad vorentoe vir die Hardapdam.

Daar word vermoed daar is watervermorsing van sowat vyf persent weens instandhoudingswerk aan infrastruktuur wat vir jare nie gedoen is nie. Pype is na bewering stukkend, kanale lek, krane word nie vervang nie en daar is ondergrondse lekkasies. Daar is glo boere wat hul eie toerusting gegee het om die vermorsing te probeer keer.

[email protected]