Antwoorde verskaf oor letsels op wild

Reeds in vier gebiede in Namibië opgemerk
Die uitslae wys dat die harde groeisels op die gemsbokke kankeragtige gewasse is wat sarkoïedes genoem word.
Elvira Hattingh
Die letsels wat op wild in die Outjo-, Otjiwarongo-, Aroab- en Steinhausen-gebiede voorkom, mag dalk kankeragtige gewasse genaamd sarkoïedes wees.
In die jongste nuusbrief van Wildlife Vets Namibia, van die wildveearts dr. Ulf Tubbesing en Mariska Bijsterbosch, is bevestig dat laboratoriumuitslae dié diagnose bevestig het.
Dit volg nadat Wildlife Vets in Januarie foto’s van die tipe velletsels in sy nuusbrief gepubliseer het en vir boere gevra het of hulle al so iets onder die wild op hul plase opgemerk het.
“Ons het antwoorde van sewe boere ontvang wat bevestig het dat hulle dit ook reeds gesien het – van so ver as die Outjo-, Otjiwarongo, Aroab- en Steinhausen-gebiede,” het die organisasie gesê.
“Ons het monster tydens ’n post mortem versamel en by die Pathcare-laboratorium vir Veeartsenykunde in Suid-Afrika ingedien vir histopatologiese ontleding.”
Die uitslae wys dat die harde groeisels op die gemsbokke kankeragtige gewasse is wat sarkoïedes genoem word, word in die nuusbrief verduidelik.

VOORKOMS
Die tipe gewasse word dikwels op perde se velle gesien, maar is ook al onder honde en wildspesies soos sebras, swartwitpense en kameelperde opgemerk.
Dit bedreig gewoonlik nie die dier se lewe nie, maar kan die dier se welstand en funksies inkort.
Dit kom dikwels voor as enkele of verskeie letsels en kan soos klein vraatjies lyk, maar ook groot genoeg raak en veselagtige verbintenisse vorm.
Volgens Wildlife Vets word dié tipe gewasse dikwels deur die beespapilloomvirus (BPV) veroorsaak. Meer toetse is egter nodig om vas te stel of dit egter dié virus is wat dit onder die gemsbokke veroorsaak het.
“Alhoewel ons nog baie moet leer oor hoe die virus versprei, blyk dit dat dit nie oordraagbaar is van een dier na die volgende nie – dit is dus nie aansteeklik nie. Dit mag wees dat dit indirek deur vlieë versprei word, maar tot dusver kon navorsing net DNS-dele en proteïene van die virus op vlieë optel en nie die hele virus nie. Nog navorsing in verband hiermee is egter nodig.”
Wildlife Vets sê behandeling is moontlik – maar dit hang af van hoe ernstig die kanker is en die ligging daarvan.
“Sarkoïedes kan chirurgies verwyder word deur ’n stywe band rondom dit te plaas wat die bloedtoevoer afsny, deur dit te ‘vries’ of met behulp van chemoterapie.
“Deesdae kan ons ook ’n entstof in die gewas inspuit, maar talle inspuitings gaan waarskynlik nodig wees, wat behandeling van wild dikwels moeilik maak,” lui die nuusbrief.
Die organisasie verduidelik dat histopatologie verwys na ’n mikroskopiese ontleding van ’n stukke vlees of vesel. Die ontleding word vir die diagnose van siektes in die vesel gebruik.