Avonture wag in die Namib

Dor, maar nie leeg nie
Van die wêreld se hoogste duine, skeepswrakke, visvang en 'n strandmeer – die Namibwoestyn en –kusgebied is definitief 'n trekpleister vir toeriste.
Elvira Hattingh
Die Namibwoestyn, wat sowat 80 900 km2 beslaan en een van die oudste woestyne in die wêreld is, het baie om aan reisigers en toeriste te bied.
Buiten dat dit teen die Atlantiese Oseaan grens – wat natuurlik ’n gewilde vakansiebestemming vir menigte mense is – huisves dit ook talle ander natuurwonders en besienswaardighede.

NAMIB-NAUKLUFT
Die Namib-Naukluft Park beslaan sowat 49 800 km2 en grens aan sy noordekant aan die Dorob Nasionale Park, suid aan Namibië se verbode diamantgebied en in die ooste aan die NamibRand-natuurreservaat in private besit.
Dit is ’n ekologies-beskermde gebied wat in Augustus 1979 gevestig is en toe die grootste beskermde gebied in die land was.
Die park behoort sedert 2010 egter ook aan die Namib Skedelkus Nasionale Park.
Die grootste dele van die park is egter nie toeganklik vir mense nie: Sowat 32 000 km2 bestaan uit sandduine. Slegs die gebied noord van die Kuisebrivier, die Naukluftberge asook Sossusvlei kan besoek word.
Die majestueuse Naukluftberge, ook ’n gewilde toeristebestemming met opwindende staproetes en poele, is bykans 2 000 m hoog en vorm deel van die oostelike deel van die park.

SANDWICH HARBOUR
In die noorde van die park – sowat 45 km suid van Walvisbaai – is die bekende Sandwich Harbour.
Sandwich Harbour bestaan uit ’n 10 km-lange baai of strandmeer wat deur sandduine omring en met riete begroei is.
Dit is die tuiste van meer as 200 000 voëls, insluitend flaminke, kormorante en pelikane. Die gebied kan egter net met ’n toergids en ’n 4x4-motor vanaf Walvisbaai bereik word.

SOSSUSVLEI, DOOIEVLEI EN SESRIEM
Sossusvlei en Sesriem is van die vernaamste aanloklikhede van die Namib-Naukluft Park.
Die Tsauchabrivier het by Sesriem ’n spoelvallei gevorm wat sowat 1 km lank en 30 m diep is. Net sowat 60 km verder is Sossusvlei, ’n soutkleipan wat deur duine omring word.
Sossusvlei, bekend daarvoor dat dit van die wêreld se hoogste sandduine het, huisves die bekende Duin 45 by sy ingang.
Die duin is sowat 170 m hoog en menigte toeris het al dié duin getrotseer.
Big Daddy is egter Sossusvlei se hoogste duin en toring uit oor die ikoniese Dooievlei – maar net die dapperstes en fikstes sal waag om die duin uit te klim.

KOLMANSKOP
Kolmanskop, Namibië se bekende “spookdorp”, kan met behulp van begeleide toere vanaf Lüderitz bereik word.
Sowat 100 jaar gelede was dit die tuiste van ’n besige diamantmyn en dit was na bewering so maklik om diamante te vind, dit kon in die sand opgetel word.
Intensiewe mynery het glo daartoe gelei dat die diamante teen die 1930’s opgeraak het. Daarbenewens is van die rykste diamantvelde verder suid gevind en Kolmanskop se inwoners het die dorp verlaat. Teen 1956 was die dorp verlate.

SKEDELKUS
Die Skedelkus is die noordelike kusgebied van Namibië, suid van die Kunenerivier en noord van die Swakoprivier.
Die San-mense het die gebied aanvanklik as “die plek wat God in woede gemaak het” gedoop, terwyl Portugese seevaarders dit die “hekke van die hel” genoem het.
Sterk, konstante branders breek onophoudelik op die strand, wat dit in die dae voor enjin-aangedrewe bote, bykans onmoontlik gemaak het om weer vanaf die strand terug see toe te vaar.
Die gebied se naam is gepas en huisves die oorblyfsels van verskeie skeepswrakke wat onkant deur rotse of digte mis gevang is, terwyl dit in die geskiedenis ook die beendere van walvisse en robbe gehuisves het, wat tóé gejag is.
Die Skedelkus is egter wêreldbekend as ’n uitstekende bestemming vir branderplankryers en dié hengelplek in die land, terwyl die talle skeepswrakke soos Eduard Bohlen, Otavi, Frotamerica en die Zeila ’n groot trekpleister is.
Nog besienswaardighede is Kaap Kruis, waar honderdduisende robbe in hul natuurlike habitat gesien kan word, asook die Skedelkus Nasionale Park.
[email protected]