Benut inheemse kosse vir voedselsekerheid

Suider-Afrika ‘vergeet’ van tradisionele kosse
Kommersiële boerdery, navorsing en ontwikkeling het ook hierdie voedselgewasse in 'n groot mate geïgnoreer, wat dit minder mededingend as gevestigde hoofgewasse maak.
Elvira Hattingh
Ondanks ’n oorvloed inheemse groente en vrugte in Suid-Afrika, word die inwoners van die streek steeds aan voedselonsekerheid blootgestel.
Dit blyk dat daar nie waarde geheg word aan hierdie voedselgewasse en die potensiaal daarvan om armoede en hongersnood uit te wis, om gesondheid en voeding te bevorder en inkomste aan huishoudings te verskaf nie.
“Die verbruik van inheemse voedselsoorte soos Bambara-aardboontjies, batsjapinboontjies (of swartbekboontjies), groen blaargroente en pampoenblare is besig om in die meeste Suider-Afrikaanse lande af te neem.
“Hierdie afname kan aan verskeie faktore toegeskryf word, insluitend die verwestering van Afrika-diëte, die bitter smaak van wilde groente wat mense afskrik, en die persepsie dat wilde groente lae-inkomstevoedsel is,” sê navorsers in die afdeling vir menslike voeding van die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch.
“’n Gebrek aan belangstelling om meer oor inheemse voedselsoorte te leer, of die afwesigheid van die ouer garde wat die inligting oor die identifikasie, oes, voorbereiding en preservering van hierdie kossoorte aan die jonger geslag oordra, het ook tot hierdie afname gelei.
“Kommersiële boerdery, navorsing en ontwikkeling het ook hierdie voedselgewasse in ’n groot mate geïgnoreer, wat dit minder mededingend as gevestigde hoofgewasse maak,” voeg hulle by.
Die navorsers het ’n sistematiese oorsig van bestaande data (2011-’21) oor die beskikbaarheid van inheemse voedselsoorte in Suider-Afrika gedoen, insluitend faktore wat tot die benutting daarvan lei.
Hulle wou die beskikbaarheid, gereeldheid van verbruik, benutting, voorbereiding, oes en preservering van inheemse voedselsoorte bepaal. Hulle wou ook die kennis, persepsies en gelowe oor hierdie kossoorte in detail onder hierdie temas opteken.
Die bevindings van die studie het onlangs in die internasionale joernaal, Sustainability, verskyn.
Volgens die navorsers het die oorsigstudie aangedui dat die beskikbaarheid en kennis van inheemse voedselsoorte belangrike bepalers van die inname daarvan was. Hulle glo dit het ’n hoër voedingswaarde as vreemde kossoorte.
“Studies in Kenia, Botswana, Suid-Afrika, Eswatini en Zimbabwe het getoon dat inheemse voedselsoorte ryk aan makrovoedingstowwe (proteïen) en mikrovoedingstowwe (kalsium, vitamiene A, potassium, magnesium, sink en yster) is, maar hulle voedingspotensiaal en voordele moet nog behoorlik bepaal en verken word.
“Daar is aangedui dat hierdie voedselsoorte meer gereeld in landelike gebiede deur veral bejaardes en werkloses verbruik word.
“Studies in ons sistematiese oorsigstudie het getoon dat sommige inheemse groentes wat van veeldoelige plantspesies verkry word, as voedsel en medisyne aangewend word om gesondheid te bevorder. Verder is daar ook verskeie drankies beskikbaar wat van inheemse kossoorte gemaak word, insluitend tradisionele bier, gefermenteerde nie-alkoholiese drinkgoed en kruietees.
“Inheemse voedselsoorte is nie net toeganklik nie, maar word ook in verskeie gemeenskappe verbruik om voedingswaarde en gesondheidsvoordele te bied. Dit is veral belangrik omdat die meeste landelike gebiede in Suider-Afrikaanse lande min of geen toegang tot mediese sorggeriewe het of mense moet lang afstande stap om by mediese geriewe uit te kom.”
Die navorsers voeg by dat inheemse voedselsoorte volgens ander studies die vermoë het om voedselsekuriteit te verbeter deur die beskikbaarheid, toeganklikheid, volhoubaarheid en benutting daarvan.
Hulle wys daarop dat slegs ’n paar studies die preservering van inheemse voedselsoorte takel, wat verklaar waarom die saadverskaffingsbedryf vir inheemse voedselplante onderontwikkeld is in Suider-Afrika.
“Die langtermynberging van hierdie voedselsoorte word deur die gebrek aan wetenskaplik gestaafde preserveringstegnieke belemmer. Daarom is dit noodsaaklik om hierdie tegnieke wetenskaplik te toets om te verseker dat geen voedingstowwe verlore gaan nie.”
Volgens die navorsers is die gewildste metode vir die voorbereiding van inheemse voedselsoorte om die verteerbaarheid en geur daarvan te verbeter om dit te kook.
“Inheemse groente word vóór verbruik gekook, terwyl inheemse vrugte wat nie giftig is nie, gewoonlik geëet word sodra hulle gepluk is.”
Hulle sê die oorsig beklemtoon ook die belangrikheid van suksesvolle internasionale, streek- en nasionale beleide om inheemse voedselsoorte te bevorder, hoewel daar baie min tot geen ondersteunende beleide in die meeste Suider-Afrikaanse lande bestaande nie.
Suid-Afrika is die uitsondering en het die toon aangegee deur navorsing oor hierdie voedselsoorte met behulp van finansiële hulp van organisasies soos die Departement van Wetenskap en Tegnologie en die Landbounavorsingsraad te bevorder.
Die navorsers beklemtoon die behoefte aan vaardighede om kapasiteit te bou, asook vir gepaste infrastruktuur in landelike gemeenskap en genoeg geld vir omvattende navorsing en bemarking sodat diegene wat betrokke is by die verbouing van inheemse voedselsoorte ’n bestaan kan maak uit hulle werk.
“Ons het bewusmakings- en bemarkingsveldtogte oraloor die streek in die vorm van werksessies en radio- en televisieprogramme nodig, terwyl toepaslike regeringsorganisasies betrokke moet raak by die bevordering van die aanvaarde gebruik van hierdie voedselsoorte in skole en hospitale en om dit deel van daaglikse etes te maak.
“Die bewaring van kennis oor inheemse voedselsoorte in boeke en deur voortgesette onderrig aan die jonger geslag oor waarom dit belangrik is om hierdie voedselsoorte te eet en die voedingswaarde daarvan, kan ook help om die aanvaarde gebruik te bevorder. Die oordrag van kennis kan help om die verbruik, voorbereiding en preservering te bevorder,” voeg die navorsers by.
Bron: Nxusani, Z.N.; Zuma, M.K.; Mbhenyane, X.G. A Systematic Review of Indigenous Food Plant Usage in Southern Africa. Sustainability 2023, 15, 8799: doi: 10.3390/su15118799.
[email protected]