Biobrandstof van indringerbos kom gou

Aanleg dalk volgende maand in werking
Die SteamBioAfrica beoog om deur hul Clean Burning Biofuel-projek indringerbosse in biobrandstof om te skakel wat selfs steenkool vir kragopwekking sal kan vervang.
Elvira Hattingh
SteamBioAfrica se aanleg by die Cheetah Conservation Fund (CCF), waar indringerbos in skoon biobrandstof omskep sal word, sal na verwagting teen middel tot einde Maart in volle produksie wees.
Dit volg nadat die biomassa-verwerkingsaanleg (BPU) op 11 Januarie reeds op die perseel afgelewer is.
“Dié tegnologie vorm die kern van die projek en word tans geïnstalleer en oor die volgende twee maande in gebruik geneem. . .
“’n Span van CE Bennet, wat vir die vervaardiging van die BPU verantwoordelik is, het ook in Namibië aangekom om toesig oor die installasie te hou,” het die onderneming onlangs in die sosiale media gesê.

PROSES
SteamBioAfrica se Clean Burning Biofuel-projek beoog om toonaangewende tegnologie te benut om indringerbosse in biobrandstof om te skakel wat nie net skoon brand en van hoë waarde is nie, maar ook steenkool vir kragopwekking sal kan vervang.
Boonop vervaardig die aanleg byprodukte soos water en biochemikalieë, wat verdere markwaarde het.
Met behulp van uitdroging (torrefaction) word biobrandstof geskep wat skoon brand en waarvan die energie-inhoud veel hoër as onverwerkte biomassa-produkte is.
Volgens SteamBioAfrica se webwerf sal die aanleg ’n deurset van 250 kg indringerbos per uur vir die eerste jaar benodig, wat 500 ton skoon biobrandstof sal maak en na verwagting meer as 80 ha se weiding sal herstel. Die stelsel sal ook meer as 250 000 liter water en ander biochemiese byprodukte lewer.
Die projek sal na verwagting die oes van indringerbosse in die land stimuleer, wat op die beurt ekonomiese, maatskaplike en omgewingsvoordele inhou.

UITBREI
SteamBioAfrica sê sodra die aanleg in Namibië operasioneel is, is hul plan om soortgelyke aanlegte in Botswana en Suid-Afrika te huisves, waar verbossing ook ’n probleem is.
Daar word beoog om in die ontwikkeling van die waardeketting, veral op die bemagtiging van vroue en die jeug te fokus.
“Die suksesvolle uitrol van SteamBioAfrica sal skoon, betroubare en bekostigbare energie op ’n grootskaal beteken. Dit kan baie van Suider-Afrika se uitdagings die hoof bied – wat insluit die afhanklikheid van lae koolstof-energie, kwesbaarheid teenoor klimaatsverandering en ’n tekort aan die nodige hulpbronne.
Die aanleg by CCF huisves ook sonpanele en batterye wat krag kan stoor, om seker te maak elektrisiteit is voordurend beskikbaar sodat die aanleg ononderbroke kan werk.
Die projek – wat op 1 September 2021 van stapel gestuur is – geniet die ondersteuning van die EU Horizon 2020-befondsingsprogram.
’n Soortgelyke projek is ook voorheen in die woude van noordelike Spanje opgerig.
[email protected]