Biomass Fair gaan groot in 2023

Drie leersame dae aangebied
Plaaslike, streek- en internasionale sprekers sal hul insae gee en deelnemers kan waardevolle insigte oor opkomende tendense en geleenthede in die bedryf verwag.
Elvira Hattingh
Die Standard Bank Biomass Fair 2023 vind vanjaar vanaf 7 tot 9 September by Gross Barmen naby Okahandja plaas.
Die geleentheid beloof om uiters leersaam te wees met beide plaaslike en internasionale sprekers wat betrek sal word, terwyl verskeie demonstrasies aangebied word.
’n Navorsingsimposium sal op Donderdag 7 September aangebied word, om innovering en navorsing in die bedryf te bevorder. Die klem sal op toegepaste navorsing val, met voorleggings deur plaaslike en internasionale sprekers wat nuus oor die jongste tegnologie in die sektor sal deel.
Op Vrydag 8 September sal toegang tot plaaslike en internasionale markte tydens ’n nywerheidskonferensie bespreek word, asook tegnologie wat beskikbaar is vir die oes- en verwerking van biomassa, verwante produkte en tegniese dienste.
Plaaslike, streek- en internasionale sprekers sal hul insae gee en deelnemers kan waardevolle insigte oor opkomende tendense en geleenthede in die bedryf verwag.
Vanaf Vrydag tot Saterdag 9 September sal ’n biomassa-ekspo met sowat 120 uitstallers ’n wye reeks biomassaprodukte en -tegnologie demonstreer. Uitstallers sal onder meer toerusting vertoon wat bosse kan oes, asook houtskool en houtprodukte, relevante dienste en finansieringsopsies aanbied.
Die doel van die uitstalling is om die groeiende biomassasektor in Namibië en die streek te bevorder. Standard Bank is die diamantborg vir die geleentheid, met vanjaar se tema wat “Die aansporing van groei in Namibië se biomassasektor” is.
Die Namibia Biomass Industry Group (N-BiG) se uitvoerende hoof, Progress Kashandula, sê die doel is om rolspelers asook die publiek op hoogte te hou van die jongste verwikkelinge in die bedryf.
“Die bosbiomassasektor dra reeds aansienlik by tot die sosioëkonomiese ontwikkeling van Namibië. Dit het die potensiaal om ’n inklusiewe bio-ekonomie te bevorder. Die geleentheid is ’n belangrike platform vir rolspelers om kennis uit te ruil en sakebande te smee.”
Die N-BiG, die Houtskoolvereniging van Namibië (CAoN) asook die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) bied die geleentheid aan.
’n Eksklusiewe skemerkelkie-geleentheid word ook beplan, met plaaslike kunstenaars soos Hannes Kaufmann wat mense sal vermaak.
Kaartjies vir die biomassa-konsert en -ekspo is by PayPulse vanaf Vrydag 4 Augustus beskikbaar. Meer inligting is beskikbaar by www.biomassfair.com.na.
[email protected]