Efundja-visbronne onder die loep

Opname word voorts gedoen
Wetenskaplikes weet nie watter omstandighede nodig is vir visse om uit te broei voor die Efundja begin afkom nie.
Elvira Hattingh
’n Span navorsers van die Universiteit van Namibië (Unam) se Sam Nujoma-kampus op Hentiesbaai het onlangs ’n navorsingsprojek in die vloedgebiede van die Ohangwenastreek begin.
Dit behels dat die vloedgebiede by Oshikango, Engela, Ohaingu, en Ongenga onder meer ondersoek sal word vir die biodiversiteit van vislewe asook die teenwoordigheid of afwesigheid van swaar metale en visse in die water.
Die studie, waarvan die resultate in ’n latere stadium bekend gemaak sal word, sal ook kyk na voedselbronne vir die visse asook die voedingswaarde daarvan. Verder sal visse se bedrywighede, hengelgereedskap wat die gemeenskappe gebruik ontleed word, asook die regulasies vir sulke aktiwiteite.
Die navorsers hoop ook om ’n opname onder inwoners en hengelaars in die gebied te maak oor hul persepsie van die voordele en uitdagings van die vloede.
“Die magdom kennis waaroor die hengelaars beskik asook die bevindinge van die navorsers, dra die potensiaal om sosioëkonomiese voordele in te hou wat vergroot kan word,” het die universiteit onlangs in ’n mediaberig geskryf.
“Dit kan help met volhoubare ontwikkeling en die verbetering van mense se lewensbestaan in die gebiede wat tot vloede geneig is.”
Unam meen indien dit goed bestuur kan word, bestaan daar ’n groot geleentheid om die vloede te verander van ’n ramp na ’n voordeel vir die gebied.

EFUNDJA
Die wisselvallige vloede, genaamd die Efundja, in die Cuvelai-gebied is beide ’n welkome bron van voedsel asook water vir gemeenskappe in die noordelike streke van die land.
Dit is nie altyd duidelik presies waar die oorsprong van die water in Angola is nie, juis omdat die Cuvelai talle verbintenisse en vertakkings het in die vorm van riviere, damme en kanale. Laasgenoemde staan onder plaaslike gemeenskappe as Oishana bekend.
Dit word ook sterk beïnvloed deur reënvalpatrone in die opvangsgebied in Angola, waar die water waarskynlik vandaan kom.
“Die Cuvelai-gebied is ook een van die mees digbevolkte gebiede in die land, met verskeie aktiwiteite waarin gebruik gemaak word van die vloedwater en visse – vir verskeie doeleindes,” het Unam verduidelik.

RISIKO
Die universiteit sê die geologiese eienskappe van die vloedgebied bied egter uitdagings vir gemeenskappe en dit beteken rampbestuur is ’n noodsaaklikheid.
“Wetenskaplikes weet nie baie oor die aard en aktiwiteit van water in die opvangsgebied nie. Dit beteken besoedeling kan maklik hier voorkom en dan weggevoer word.
“Die omstandighede wat nodig is vir die visse om uit te broei voor die vloede begin voorkom, is onbekend. Diegene wat afhanklik is van dié voedselbron, stroomaf in Namibië, loop die risiko op besoedelde water en visbronne,” sê Unam. – [email protected]