EIF, Nasria soek saam finansiering vir boere

Beveg klimaatsverandering
Die versekeringsproduk is so gestruktureer dat die regering verantwoordelik is vir 80% van die versekeringspremie en die boere vir net 20%.
Francoise Steynberg
Die Omgewingsbeleggingsfonds (EIF) van Namibië en die Namibia Special Risks Insurance Association (Nasria) het ’n memorandum van samewerking in Windhoek onderteken wat boere wil help om die uitdagings van klimaatsverandering in die landbousektor te beveg.
Dit is ’n mylpaal vir die twee entiteite se verbintenis tot samewerkende pogings om nie net klimaatsverandering te takel nie, maar om volhoubare ontwikkeling te bevorder en die beskikbaarheid en toeganklikheid van klimaatsverandering-verwante versekeringsprodukte in Namibië te verbeter.
Die primêre doelwit is om ’n omvattende raamwerk vir samewerkende betrokkenheid te formaliseer. Die memorandum poog om ’n platform te skep waar die EIF en Nasria nie net inligting met mekaar deel nie, maar ook vaardighede, kennis, kundigheid en innoverende stelsels.
Volgens die waarnemende besturende direkteur van Nasria, John Uusiku, is hul Weather Index Based Livestock Insurance (Wibli) ’n landbougerigte klimaatsverandering-risikoproduk wat spesiale risikoversekering in die plaaslike landbousektor gaan revolusioneer.
Die nuwe Nasria-veeversekeringsproduk is gebaseer op die reënval-indeks en word aangevul deur satellietdata.
“Dit is daarop gemik om veeboere te help om droogte- en vloedgebeure se veerkragtigheid te versag en te verbeter,” het Uusiku gesê.
Die produk is bedoel vir beide kommunale en kommersiële veeboere.
Op ’n vraag of boere hierdie versekeringsproduk kan bekostig, het Uusiku gesê die produk is so gestruktureer dat die regering verantwoordelik is vir 80% van die versekeringspremie en die boere vir net 20%.
Hy het gesê boere kan aansoek doen vir Wibli via boereverenigings, koöperasies en organisasies of by Nasria se kantore.
Die uitvoerende hoof van die EIF, Benedict Libanda, het gesê “deur kundigheid en hulpbronne te deel, kan ons die veerkragtigheid van Namibiërs tydens uitdagings van klimaatskokke versterk en volhoubare ontwikkeling bevorder”.
As deel van hul verpligtinge sal EIF en Nasria saamwerk aan inisiatiewe om finansiering vir die klimaatsverandering-verwante versekeringsprodukte te verseker. – [email protected]