Etosha se leeubevolking vir nou stabiel

Geskiedenis bied waardevolle insigte
Elvira Hattingh
Terwyl die leeubevolking in die Etosha Nasionale Park klaarblyklik oor die afgelope jare gestabiliseer het, bly dit van kardinale belang om hul getalle te monitor sodat bestuursbesluite voortdurend aangepas kan word.
In ‘n artikel deur Gail Thomson getiteld “The Lions of Etosha: A Brief History” word verduidelik hoe die park se leeus geraak is deur ‘n vermindering in die getalle van hul prooi – wat op die beurt weer deur heinings, kunsmatige watergate en ander faktore meegebring is.
Die artikel is gebaseer op die navorsingstuk "The historical effects of infrastructure development on the lion population of Etosha National Park, Namibia" deur J. Heydinger, C. Packer en P. Funston wat in die Namibian Journal of Environment Vol. 6 (2022) gepubliseer is.
Thomson sê uit die geskiedenis is dit duidelik dat Etosha ‘n veilige vesting vir verskeie wildspesies is, maar dat die toespan of “afsny” van die ekostelsel van omliggende gebiede ‘n verwoestende uitwerking op leeus se grootste prooi gehad het – sebras en wildebeeste.
“Daar sou baie meer leeus gewees het as die wildebees- en sebrabevolkings nooit in duie gestort het nie,” het Thomson gesê. Sy is van mening dat uitgebreide droogtes as gevolg van klimaatsverandering ook ‘n bedreiging vir die leeus kan inhou en daar om dié rede nie net aangeneem kan word dat hulle veilig in die park sal wees nie.
“Nietemin is dit bewys dat leeus veerkragtig is en hul aktwiteite en voorkeure vir prooi aanpas volgens veranderinge in die ekostelsel.”

TERUGBLIK
Sedert die vroeë 1900’s het die park reeds groot veranderinge ondergaan. Tog het die park se leeubevolking klaarblyklik besonderse veerkragtigheid getoon, al is honderde van hulle op naburige plase in die vroeë en middle twintigste eeu geskiet.
Die laagste raming van leeugetalle in Etosha was 150 in die jaar 1952, waarna hul getalle weer na sowat 500 in 1980 gegroei het. Die mees onlangse skatting van hul getalle was 335 in 2018.
Terwyl leeus direk geraak is deur veranderinge in bestuurspraktyke oor tyd, was die grootste impak op hul getalle indirek. Siektes, die span van heinings en kunsmatige watergate het ‘n sameloop van omstandighede tot gevolg gehad wat leeus se grootste prooi geaffekteer het.
Die heining aan die noordelike grens van Etosha het klaarblyklik die grootste impak gehad omdat hulle die migrasieroetes van groot kuddes wildebeeste en sebras versteur het en hulle verhinder het om na die park terug te keer. Die oorblywende diere het naby die kunsmatige watergate begin saamdrom en die omgewing oorbewei.

PERFEKTE STORM
Daarbenewens was miltsiekte of antraks nog altyd deel van Etosha se ekostelsel, maar oorbeweiding en die ontwrigting van grond het uitbrekings van die siekte oor ‘n typerk vererger.
As gevolg van al hierdie faktore het die bevolkingsgetalle van wildebeeste van 25 000 tot 30 000 geval na net sowat 5000 – binne een dekade. Dieselfde tendens is onder sebras waargeneem – net oor ‘n langer tydperk.
Tydens die aanvanklike vrektes van die diere het die leeus floreer. Hulle is weerstandig teen antraks en kon aan die karkasse vreet sonder dat dit hulle affekteer. Boonop beteken die kunsmatige watergate dat hulle prooi nie meer wegtrek nie en meer leeutroppe kon dus vorm.
Die goeie tyd was egter van korte duur toe daar nie meer baie sebras en wildebeeste oor was nie. Springbokke en gemsbokke – tot ‘n mindere mate – het die leeus gered. In die laat 70’s het goeie reënneerslae daartoe gelei dat springbokke se getalle verdriedubbel het na ‘n geraamde 32 000 toe.
‘n Erge droogte het egter in die vroeë 80’s gevolg en springbokke se getalle het ook skerp begin afneem. Die leeubevolking het ook gekrimp - van sowat 500 individue in 1980 tot net sowat 200 in 1986. Sedertdien het hul getalle egter weer toegeneem en klaarblyklik op 300 tot 400 gestabiliseer.
Konflik met mense bly egter ‘n uitdaging vir Etosha se leeus. Tydens die 35 jaar tussen 1975 en 2010 is daar na raming minstens 1 059 leeus geskiet – hoofsaaklik op plase aan die park se oostelike en suidelike grens.