FlyNamibia en EES span saam

Elvira Hattingh
FlyNamibia Safari het die afgelope week aangekondig die redery sal vir die volgende jaar met die plaaslike sanger en mediapersoonlikheid EES hande vat met die doel om “Namibië met die wêreld te deel”.
FlyNamibia Safari het in ‘n mediaverklaring gesê Namibië is die mees ikoniese en diverse safari-bestemming in Afrika. “Die land is groot en het so baie om te vier – alles van die natuur, sy landskappe tot sy mense en kulture.
“Met FlyNamibia Safari kan besoekers aan hierdie land met sy nimmereindigende vistas toegang tot die heel beste van Namibië kry deur daaglikse vlugte na die beste bestemmings - vanaf die Internasionale Lughawe Hosea Kutako in Windhoek tot op Sossusvlei, Swakopmund, Twyfelfontein en Damaraland, die Etosha Nasionale Park asook die wonderlike Zambezistreek.
“Deur ons vennootskap met EES, een van die land se mees ikoniese ambassadeurs, hoop ons om alles te kan vier wat Namibië spesiaal maak en om seker te maak dat Namibiërs, ons kern Duitse mark asook die res van die wêreld, dit saam met ons vier.”
Wil jy meer van EES te wete kom? Volg die skakel (https://q.my.na/0QKR) of skandeer die QR-kode by die artikel.