Gevangenes sal saad aan landboubedryf voorsien

Aangepaste variëteite op proefplase getoets
Plaaslike gevangenes sal in die toekoms saad van aangepaste gewasse aan die landbousektor kan verskaf.
Elvira Hattingh
Namibië se korrektiewe dienste is tans in sy geheel selfvoorsienend in voedsel, danksy die feit dat gevangenes voedsel by verskeie fasiliteite produseer vir eie gebruik.
Daarbenewens sal die implementering van die saadvermenigvuldigingsprojek voorts sorg dat dié fasiliteite hoëgehalte-saad vir Namibië se landboubedryf produseer – wat bestand is teen droogtes en siektes.
Dit sluit in sade vir nuwe en aangepaste variëteite van mielies, koring, aartappels, mahangu en sesam.
Dit volg nadat die saadprojek op 27 Junie op Tsumeb by die Evaristus Shikongo-korrektiewe fasiliteit bekend gestel is, terwyl koring ook tydens die geleentheid aangeplant is.
Die projek is die uitvloeisel van ’n samewerkingsooreenkoms tussen Namibië se korrektiewe dienste, die Verenigde Nasies (VN) se Wêreldvoedselprogram (WFP), die Universiteit van Namibië (Unam) asook die Akkerbouraad van Namibië (NAB).

GROND BESKIKBAAR GESTEL
Komm.genl. Raphael Hamunyela van die Namibiese korrektiewe dienste het tydens die geleentheid gesê 0,9 hektaar (ha) onder besproeiing, is beskikbaar gestel vir die vermenigvuldiging van aartappelsaad, asook 8,5 ha vir die aanplanting van koring en die vermenigvuldiging van koringsaad.
Hamunyela sê hy het in Desember verlede jaar – op uitnodiging van die WFP in Namibië – besoek aan Zimbabwe afgelê. Tydens die geleentheid is hy blootgestel aan innoverende en volhoubare boerderymetodes en dit het daartoe gelei dat hy die grond vir Unam se saadvermenigvuldigingsprojek beskikbaar gestel het.
“Namibië se korrektiewe dienste beskik oor vier produksieplase, met die Hardap-, Evaristus Shikongo-, Divundu- asook Oluno-korrektiewe fasiliteite wat beide gewasse en vee produseer – en benut word vir gevangenes se rantsoene.”
“Die korrektiewe dienste, in samewerking met Unam, sal in die behoefte in menslike hulpbronne, grond, besproeiing, infrastruktuur asook ander faktore voorsien, om seker te maak die saadprojek bereik sy doelwitte. Dit sluit in die vermindering van insetkoste, die verbetering van plaaslike voedselproduksie en -sekuriteit asook om ’n volhoubare boerderystelsel op die been te bring,” het hy afgesluit.

FASES
Namibië se visepresident en kanselier van Unam, dr. Nangolo Mbumba, het verduidelik die projek sal in twee fases uitgerol word.
“Fase een fokus op navorsing deur verskeie sade te plant en variëteite te identifiseer wat hoë opbrengste lewer. Dit word gebaseer op die sade se genetiese samestelling asook omgewingstoestande.
“Fase twee behels die vermenigvuldiging van saad op grootskaal. Sodra die twee fases voltooi is, kan ons uitsien om sekere mylpale binne Namibië se saadproduksiesektor te bereik,” het Mbumba gesê.
Gerson Kampungu, die bestuurder van navorsing en beleidsontwikkeling by die NAB, sê die raad het reeds in 2020 ’n samewerkingsooreenkoms met Unam onderteken.
“Oor die afgelope drie jaar het die NAB altesaam N$2,937 miljoen aan Unam beskikbaar gestel vir die projek. In die boekjaar 2023-’24 sal ’n verdere N$1,3 miljoen beskikbaar gestel word,” het Kampungu gesê.
Prof. Kenneth Matengu, Unam se visekanselier, het tydens die geleentheid verduidelik die doel is om Namibië – wat tans ’n netto invoerder van beide saad en voedsel is – te help om meer selfvoorsienend te raak en beter voedselsekuriteit aan sy burgers te kan bied.
“Dit is teen hierdie agtergrond dat Unam begin het met navorsing om nuwe variëteite van mielies, koring, aartappels, mahangu en sesamsaad te produseer – gegewe die omgewingstoestande binne Namibië.
“Die universiteit beskik oor vaardige navorsers en internasionale netwerke wat kan bydra tot nasionale ontwikkeling,” het Matengu bygevoeg.
[email protected]