Konstruksie vorder goed by Savanna Beef

Nexus is op skedule met projek
Die beplande nuwe uitvoerabattoir naby Okahandja neem vorm aan.
Francoise Steynberg
Dit is interessante en intensiewe tye vir Savanna Beef se beplande nuwe uitvoerabattoir naby Okahandja.
Dit is die belowende woorde van Mecki Schneider, die taakspanvoorsitter van die Forum vir die Beesvleiswaardeketting (BVCF).
“Die kontrakteur is besig met konstruksiewerk. Grondverskuiwingswerk vind plaas en die fondasies word tans gegooi om die abattoir op te sit,” het Schneider onlangs op Grootfontein aan Dani Booysen van Kletskompas gesê.
“Ons is van plan dat die fabriek in die begin Junie 2025 gaan staan. Die projek van N$250 miljoen is aan die gang.”
Volgens Schneider sal N$240 miljoen binne die volgende drie tot vier maande aan die projek bestee word “en hopelik sien ons aan die einde van die jaar ’n gebou met ’n dak op”.
Schneider het gesê Savanna Beef is deur ’n lang beplanningsfase wat baie tyd in beslag geneem het om ’n visie in realiteit te omskep, met onder meer studies, finansiering, tenders en kontrakteurs en om al die finansierders se waarborge te kry.
“Behalwe vir die finansiering en konstruksie, is die derde faktor dan die markte. Ons bestee baie tyd aan die markte, want dit is die perd wat die kar gaan trek. Dit is belangrik dat ons aan die mark werk,” het hy gesê.
Daar is ook noue samewerking met die direktoraat van veeartsenydienste in die ministerie van landbou, water en grondhervorming, “want ons wil die akkreditasietydperk so kort as moontlik maak, want dit is miljoene se verliese as jy dit nie het nie”.

SOEKTOG NA UITVOERENDE HOOF
Savanna Beef moet ook personeel aanstel en wil volgens Schneider binne ’n jaar 180 werknemers in diens neem.
“Hulle is spesiale mense met spesiale kennis. Ons het al ’n paar mense aangestel.”
Die volgende belangrike aanstelling is die uitvoerende hoof en volgens Schneider is ’n paar aansoeke al ontvang.
“Ons hoop ons vind binnekort die regte persoon.”
Die aanleg is 25 km suid van Okahandja by die Teufelsbach-afrit aan die oostekant van die A1-snelweg geleë.
Die aanleg sal sowat sewe tot agt hektaar beslaan op die stuk grond wat 25 hektaar groot op die plaas
Teufelsschlucht is.
“Die grond is groter as wat ons nodig het, maar dit bied die geleentheid vir die uitbreiding wat ons in gedagte het,” het Schneider afgesluit.
Jan-Hendrik Engelbrecht, die besturende direkteur van die kontrakteur, Nexus, het aan Agri Monitor bevestig dat die konstruksieprojek goed op dreef is.
“Volgens ons konstruksieprogram is ons op skedule,” het hy Vrydag gesê.
[email protected]