Kunene-boere leer oor kleinvee

Elvira Hattingh
Die Omgewingsbeleggingsfonds van Namibië (EIF), in samewerking met die ministerie van landbou, water en grondhervorming, het verlede maand ’n opleidingsgeleentheid vir kleinveeboere in die Khorixas- en Opuwo-omgewing aangebied.
Altesaam 25 boere het die geleentheid bygewoon – 14 vroueboere en 11 mans, met 19 van die boere wat uit gemarginaliseerde groepe, soos die Himba-, San en Zemba-groepe kom.

IREMA-KUNENE-PROJEK
Die EIF asook die ministerie implementeer tans ’n projek om kleinboere te help met hul aanpassing tot klimaatsverandering.
Die projek getiteld “Die verbetering van weiveld- en ekostelselbestuurspraktyke onder kleinboere midde klimaatsverandering in Sesfontein, Fransfontein, en Warmquelle, ofte wel die Irema-Kunene-projek”, se doel is om kleinboere se kwesbaarheid te verminder.
Dit sluit in dat boere ondersteuning sal ontvang om vee aan te hou wat gehard is teen droogtes, met die fokus op kleinveeboerderypraktyke.
Tot dusver is reeds 630 bokke met behulp van die skema bekom, met altesaam 29 begunstigdes. Die ministerie het op sy eie ook 441 bokke aangeskaf, met 21 boere in die Kunenestreek wat die begunstigdes was.
Tydens die jongste geleentheid wat vanaf 2 tot 15 April aangebied is, het die begunstigdes meer geleer oor volhoubare bokboerderye en bykomende praktyke vir goeie produksie, veebemarking en om die diere aan te hou.
Hulle vaardighede is verskerp terwyl hulle ingelig is oor die regulasies van dié skema asook die uitdagings wat die begunstigdes soms in die gesig staar.
Die opleiding het vier dae lank by elke ligging geduur en tydens beide geleenthede was kenners asook twee verteenwoordigers van die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) teenwoordig om seker te maak die boere ontvang die nodig ondersteuning en hulp.

OPLEIDING
Opleidingsessies is gefasiliteer deur Agribank, voorligtingsbeamptes van die direktoraat van landbouproduksie en ingenieursdienste (Dapees) asook Irema se streek- tegniese beamptes.
Verskillende opleidingsmetodes en -tegnieke is gebruik, wat insluit interaktiewe aanbiedings met illustrasies, besprekings, ’n dinkskrum asook sessies vir vrae en antwoorde.
Inligtingsboekies en ander relevante literatuur is as verwysingsmateriaal aan die deelnemers voorgelê.
Die opleiding het die volgende onderwerpe gedek: Dieregesondheid, rekordhouding, kleinveeboerdery, algemene liggaamskondisie, diagnosering van siektes, hoe gesonde bokke lyk, higiëne in krale, inenting en dosering, bemarking, kuddesamestelling, teling asook ander algemene onderwerpe.
Die uitwerking van klimaatsverandering en die voordele van kleinveeboerderye asook die rolle en verantwoordelikhede van begunstigdes is ook bespreek.
[email protected]