Kunene-wagters ontvang motorfietse

Inisiatief deur Rally for Rangers-projek
Die hoop is dat die skenking wagters sal help om meer doeltreffend op te tree as dit by die hantering van mens-olifant-konflik kom.
Elvira Hattingh
Olifantbewaarders van gemeenskappe in verskeie bewaringsgebiede in die Kunenestreek het vandeesmaand ’n skenking van altesaam 15 motorfietse ontvang.
Dit danksy die Rally for Rangers-projek deur die Mongol Ecology Center (MEC).
Volgens ’n mediaverklaring deur die nieregeringsorganisasie Integrated Rural Development and Nature Conservation (IRDNC), is die wagters die “voete op die grond” wat ’n noodsaaklike rol speel in die patrollering, monitering en bewaring van woestynaangepaste olifante. Hulle doen dit namens hul gemeenskappe met die oog daarop om mens-olifant-konflik te verminder.
Die Rally for Rangers Riders het Namibië vanaf 3 Julie tot 17 Julie besoek. Tydens dié besoek is ’n twee weke lange rit vanaf die Midgard Lodge deur Damaraland aangepak tot by die Twyfelfontein Country Lodge. Dit is hier waar die oorhandiging van motorfietse plaasgevind het.
Verskeie regeringsamptenare, raadslede, bewaringshoofde en leiers van plaaslike nieregeringsorganisasies het die geleentheid bygewoon. Die hoop is dat die skenking wagters sal help om meer doeltreffend op te tree as dit by die hantering van konflik met olifante kom.
Luidens die verklaring is daar baie min woestynaangepaste olifante oor – na raming minder as 150 – en is hulle onder erge druk as gevolg van hul habitat wat verlore gaan en die konflik wat daaruit voortspruit.
Midde klimaatsverandering en aanhoudende droogtes verbou plaaslike gemeenskappe toenemend al hoe meer gewasse – veral omdat dit hul afhanklikheid van veeteelt vir voedselsekuriteit verminder. Olifante vernietig egter dikwels die gewasse, wat konflik met boere veroorsaak. Daarbenewens verniel hulle ook dikwels waterinfrastruktuur in hul soeke na water.
[email protected]