Landbouberaad se fokus op vroue

Tegnologie, innovasie bespreek
Vroueboere sal suksesverhale en beste praktyke deel, terwyl entrepreneurs en vooruitdenkendes in landbou hul ervarings, uitdagings en strategieë sal deel.
Elvira Hattingh
Die Vroue- en Landbouberaad, ’n jaarlikse geleentheid wat vroueboere, vroue met ’n belangstelling in boerdery, landbou-organisasies en ander rolspelers byeenbring, vind weer môre by die Nasionale Teater van Namibië (NTN) in die hoofstad plaas.
Vanjaar bied opnuut ’n geleentheid vir belanghebbendes om die beste landboupraktyke met mekaar te deel, verhoudings en netwerke te vorm en inisiatiewe te ontwikkel om vroueboere te ondersteun en te bevorder.
Die geleentheid word deur die Nutrition and Food Security Alliance of Namibia (Nafsan) gekoördineer.
Vanjaar se konferensie fokus op die benutting van tegnologie en innovasie om die landbousektor te transformeer. Die openingsrede sal handel oor die benutting van dié elemente om die potensiaal van landbou en waardetoevoeging in Afrika te ontsluit.
Een van die temas wat tydens die beraad bespreek sal word, sluit in ’n ekonomiese oorsig van die landbousektor. Tydens die tweede sessie sal ’n paneelbespreking aangebied word oor die rol van vroue in tegnologiese vooruitgang in landbou, waarna paneellede van toonaangewende landbou-organisasies en tegnologiemaatskappye die toekomstige rol van vroue in volhoubare landbou in Afrika sal bespreek.
Ander onderwerpe sluit in toegang tot tegnologie, digitale oplossings vir boerdery, outomatisering, presisie-boerdery en ontluikende tendense in die bedryf. Tydens sessie drie sal gefokus word op die verbetering van innoverende vaardighede vir vroueboere terwyl moderne tegnieke soos vertikale boerdery, hidroponika en kweekhuise ook gedemonstreer sal word.
Suksesvolle vroueboere sal suksesverhale en beste praktyke deel, terwyl entrepreneurs en vooruitdenkendes in landbou hul ervarings, uitdagings en strategieë vir die benutting van tegnologie en innovasie in die bedryf sal deel.
Ander onderwerpe sluit in landbouverwerking, waardetoevoeging, marktoegang, klimaatslim boerdery en volhoubare praktyke. Tydens interaktiewe sessies sal daar gesels word oor die uitdagings vir vroue in die landbousektor en moontlike oplossings daarvoor.
Onderwerpe wat tydens sessie vyf gedek sal word, sluit in toegang tot finansiering, grondregte, opleiding en kapasiteitsbou, beleidsbevordering en die bemagtiging van vroue in boerderygemeenskappe.
Die konferensie sal afgesluit word met ’n uitstalling en netwerkgeleentheid – ’n toegewyde ruimte vir vroueboere, landbouverwerkingsmaatskappye, en landboutegnologieverskaffers om hul produkte, dienste en innovasies uit te stal.
- [email protected]