Laura soek 50 plase vir Khomas (Agri Monitor)

Druk van gemeenskappe
Die goewerneur van die Khomasstreek het uitdagings oor grondaankope en -toekenning aan die landbouministerie uitgewys.
Francoise Steynberg
Die goewerneur van die Khomasstreek, Laura McLeod-Katjirua, pleit vir meer landbougrond van die ministerie van landbou, water en grondhervorming.
“My kantoor ontvang druk van gemeenskappe oor grondtoekenning en ek het nie antwoorde op vrae met betrekking tot plaasaankope en grondtoekenning nie,” het sy in Windhoek tydens die ministerie se jaarlikse beplanningsvergadering gesê.
“Ek waardeer die moeite en goeie werk wat die ministerie doen,” maar bygevoeg dat tydens die vorige finansiële jaar landbougrond van 8 132 hektaar in die Khomasstreek bekom is en “tot op hede is hierdie plaas nog nie toegeken nie”.
Die goewerneur is ingelig dat die plaas aan die !Khomanin Tradisionele Owerheid oorhandig sal word indien dit deur die kabinet goedgekeur word.
“Sedert onafhanklikwording het die ministerie slegs 18 plase bekom, waarvan vier plase oorgedra is. Hierdie getal is onbeduidend vir die bevolkingsuitbreiding van die Khomasstreek.”
McLeod-Katjirua meen dit beteken dat die ministerie sedert onafhanklikwording slegs 14 plase volgens die Wet op Kommersiële Grondhervorming gekoop het.
“Die !Khomanin Tradisionele Owerheid se grondeis bly ’n netelige doring in my vlees,” het die goewerneur gesê.
“Khomas is die enigste streek in die land met slegs 18 plase wat sedert onafhanklikwording toegeken is, en sonder ’n kommunale gebied met ’n bevolking van 494 605 volgens die onlangse sensus deur die Namibiese Statistiekagentskap.”
Sy het beklemtoon dat die bevolkingsgrootte die grootste is in vergelyking met al die streke in die land as gevolg van die toestroming van mense wat na die stad migreer vir sosioëkonomiese geleenthede.
Die !Khomanin Tradisionele Owerheid vereis dringende ingrypings deur die ministerie om die druk in grondaanvraag te verminder.
Plase wat aan die staat in die Khomasstreek aangebied word, word glo op die nippertjie deur die plaaseienaars onttrek of deur die ministerie as ongeskik vir hervestiging bevind.
“As dit die uitdaging is, laat die ministerie as ’n saak van dringendheid ’n ander metode vind om grond van die grondeienaars binne Khomas se geografiese grense te bekom,” het McLeod-Katjirua benadruk.
“Ek het nie behoorlike statistieke vir nou in terme van die aantal plase wat ons in Khomas benodig om gronddruk te verlig nie, maar as die begroting dit toelaat, kan ons ten minste vyf plase elke boekjaar binne die nasionale begroting teiken, met die teiken van ten minste 50 plase om die grondaanvraag in die streek te takel.
“Die gebrek aan grond in die streek is absoluut kritiek, duidelik en kan geregverdig word deur die kommerwekkende aantal mense wat in stedelike gebiede binne die grense van die stad boer, die oorvol geen weidingsgebiede van Satanslaught, Mix-nedersetting, Baumgartsbrunn en afgesette plaaswerkers wat daagliks in die plaaskorridors van ons uitgestrekte Khomasstreek afgelaai word.”
Die goewerneur het bygevoeg dat die plase Versailles, Nauaspoort en Arovlei ’n uitdaging is waar mense hulself hervestig het en die kwessie vereis die ministerie se ingryping.
Die ministerie het tydens die vorige boekjaar sewe plase van 33 822 hektaar vir N$91,4 miljoen vir hervestiging aangekoop.
[email protected]