Mokuti Etosha heropen 5 Maart

Elvira Hattingh
Die nuut oorgedoende Mokuti Etosha beplan om sy deure op 5 Maart te heropen – die keer met ’n splinternuwe ingangsportaal, sitkamers, Safari-kroeg en -restaurant, kombuis, vuurput, swembadkroeg en swembaddens – wat jou na jou asem sal laat snak.
Dit volg nadat die gewilde bestemming, wat net oos van die Etosha Nasionale Park geleë is, sedert Maart verlede jaar sy deure gesluit het vir groot opgraderingswerk.
Mokuti se algemene bestuurder, Etienne Fourie, is onlangs in ’n Ohlthaver & List (O&L)-mediaverklaring aangehaal waar hy gesê het hy kan daagliks die vordering sien en hulle wonder nie langer hoe dit gaan lyk nie, want alle elemente kom nou mooi saam.
“Die buitemure neem vorm aan en ander komponente, soos die instap-yskaste in ons kombuise en sondek is reeds in plek en verbeter die algemene gevoel van opgewondenheid en dat iets groots bereik is. Dit is ’n wonderlike tyd en ons kan nie wag om weer in Maart oop te maak nie . . .” het hy gesê.
Norbert Wurm, O&L Leisure se besturende direkteur, het sowat ’n jaar gelede verduidelik dat dit tyd geword het dat nog een van O&L Leisure se ondernemings in ’n kontemporêre bestemming omskep word, terwyl sy 32-jarige karakter en erfenis bewaar sal word.
“Hierdie statige dame is gereed vir opknapwerk, in ooreenstemming met ons O&L-doelwit, naamlik om ’n toekoms te skep en die lewe te verbeter.
“Ons wil seker maak dat die lodge aan die voorpunt van die gasvryheidsbedryf in Namibië sal bly. Ons belê weer in Mokuti met vertroue in ons toekoms en die toekoms van Namibië se toerisme. Dit om ‘nuwe realiteite’ te skep asook nuwe wêreldklasstandaarde vir ons bedryf,” het hy gesê.
Mokuti bied aan besoekers bos-uitstappies saam met die plaaslike Haikom Sanmense, pamperlangsessies by hul Omulilo Spa en kan jou ook rondry – snags vir naghemel-safari’s asook na die Ontouka-reptielpark.
[email protected]