Pas In: Minimumloon vir plaaswerkers styg met 10%

Elvira Hattingh
Die minimumloon vir plaaswerkers sal vanaf 1 Oktober vanjaar met 10% verhoog, wat beteken jong, onervare werkers sal nou minstens N$6 per uur moet ontvang of N$1 170 per maand, as hulle 45 ure per week werk.
Dit volg ná onderhandelinge binne die Namibië Landbou-arbeidsforum, wat bestaan uit die Landbou Werkgewersvereniging (AEA); die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU) en die Namibië Plaaswerkersunie (NAFWU).
Die nuwe minimumloon is van toepassing op plaaswerkers op beide kommersiële en kommunale plase en bestaan uit ‘n kontantbetaling asook rantsoene.
Plaaswerkers wat nie gratis rantsoene ontvang nie, se rantsoentoelaag verhoog na N$650 per maand. Dit beteken die waarde van die basiese minimumloon staan voorts op sowat N$1 820 per maand.
Die ooreenkoms is op 1 September deur die betrokke partye onderteken. Die forum het werkgewers daaraan herinner dat die minimumloon van toepassing is op jong plaaswerkers sonder enige ervaring. Die salarisse wat aan plaaswerkers betaal word wat reeds ervaring het, is heelwat hoër.
“Ons is van mening dat die meeste plaaswekers beter af is as werkers in ander nywerhede omdat hulle ook gratis behuising, rantsoene, water, elektrisiteit en vuurmaakhout ontvang. In ander bedrywe moet werkers die grootste deel van hul salaris gebruik om hiervoor te betaal,” het die forum in ‘n mediaverklaring gesê.
Die partye het ook ingestem dat aanpassings tot die minimumloon in die landbousektor op ‘n jaarlikse basis bespreek moet word. Enige aanpassings sal dan jaarliks op 1 Oktober in werking tree om die negatiewe uitwerking van inflasie op plaaswerkers se lewenstandaard so min as moontlik te hou.