Plase beskikbaar vir hervestiging

Dien aansoek in voor 2 Mei
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Die ministerie van landbou, water en grondhervorming het tans ses hervestigingsplase of –eenhede beskikbaar.

Belangstellendes het tot 2 Mei tyd om aansoek te doen om op een van dié plase hervestig te word.

Volgens ’n advertensie wat die ministerie op 31 Maart geplaas het, is twee eenhede in die Karibib-omgewing beskikbaar. Die plase is onderskeidelik 3 329 ha en 3 366 ha groot en is geskik vir groot- en kleinveeboerderye, asook om wild op aan te hou. Die dele staan bekend as deel twee van die plaas Neu Scwaben.

By Karasberg is nog twee eenhede beskikbaar, bekend as deel een van Lubeck Oost van die plaas Lubeck West nommer 2. Dit is onderskeidelik 2 676 ha en 3 473 ha groot. Dit is ook geskik vir klein- en grootveeboerderye.

In die Outjo-omgewing is die plaas Babelsberg beskikbaar. Dit is sowat 1 650 ha groot met ’n funksionele boorgat en dit is geskik vir klein- en grootveeboerderye.

Die laaste plaas is in die ||Kharasstreek geleë by Ariamsvlei: Die plaas Retreat beslaan sowat 4 994 ha en het vyf funksionele boorgate beskikbaar vir aansoekers wat met kleinvee wil boer. Die eenhede word dan oor ’n tydperk van 99 jaar aan hervestigingsboere verhuur en betaling moet geskied soos wat die ministerie bepaal gepas is vir die gegewe grond.

Om vir hervestiging in aanmerking te kom, moet aansoeker 18 jaar en ouer wees en ’n agtergrond of belangstelling in landbou of landbou-verwante aktiwiteite hê.

Die plase is ook bedoel vir diegene wat voorheen maatskaplik, ekonomies of in terme van onderrig deur diskriminerende wette en praktyke benadeel is. Boonop moes die persoon regte tot enige ander landbougrond afgestaan het.

Die plase is tydens kantoorure beskikbaar vir besigtiging vir die publiek vir ’n maand nadat die kennisgewing gepubliseer is. Aansoeke moet by die goewerneurs van al 14 streke van die land ingedien word, soos aangedui op die ministerie se webwerf.

Aansoekvorms asook ander belangrike dokumente kan van die ministerie se webblad (by https://mlr.gov.na/) afgelaai word.

– [email protected]