Sauma soek nog lede

Verenigde front skep
Die organisasie sê die impak wat besoedelde grondwater sal hê, strek baie verder as net die Stampriet- artesiese kom.
Die Vereniging vir Uraanmynbou in die Stampriet-akwifer (Sauma) sê dit blyk dat die onderskeie ministeries wat betrokke is by die mynbou- en eksplorasieprosesse, die saak uit verskillende perspektiewe beskou.
Die ministeries betrokke is naamlik dié van myne en energie, die omgewing, bosbou en toerisme, en landbou, water en grondhervorming,
“Verskeie permitte, lisensies en klaringsertifikate word uitgereik of verleng, terwyl geen nuwe boorpermitte binne hierdie waterbeskermde gebied toegestaan word nie,” lui ’n verklaring van Sauma.
“Tans is daar 42 eksklusiewe prospekteerlisensies of aansoeke vir kernbrandstofminerale (nuclear
fuels) wat 3,37 miljoen hektaar of 53,3% van die Stampriet- artesiese kom dek. Een maatskappy, Zoya Minerals, wat tien groot eksklusiewe prospekteerlisensies besit, het onlangs ’n
omgewingsklaringsertifikaat ontvang om eksplorasie-aktiwiteite te begin.”
Sauma meen die impak wat besoedelde grondwater weens in situ-loging sal hê, strek baie verder as net die Stampriet- artesiese kom.
“Dit raak die hele Namibië.”
Die Stampriet-kom dien al dekades lank as ’n belangrike boerderygebied.

LIDMAATSKAP
Sauma se lede het die afgelope maande toegeneem, maar hulle moedig steeds elke persoon aan om ’n aansoekvorm in te vul en aan te sluit.
“Ons wil as ’n groot groep kan praat wanneer hierdie saak voor die hof kom. Moedig asseblief u familielede, werkers, bure en besoekers aan om by Sauma aan te sluit. Ons benodig al die hulp en ondersteuning wat ons kan kry.”
Sauma het tans 690 lede, maar poog om 10 000 lede binne die volgende ses maande te hê.
Lidmaatskap is gratis.