Simmentaler-bul behaal rekordprys

Kommersiële bedryf sukkel
Oor TG 20-15 wat 'n nuwe rekordprys van N$200 000 behaal het, sê Kaspar Günzel die bul was struktureel baie korrek, het goeie teelwaardes gehad en is oor die algemeen 'n bul van hoë gehalte.
Elvira Hattingh
Die goeie pryse wat die afgelope weke op veilings vir stoetbulle betaal is, is waarskynlik toe te skryf aan die feit dat Suid-Afrika ?’n uitbreking van bek-en-klouseer het en beperkte aantal genetika tans beskikbaar is, meen ’n teler.
Daarteenoor plaas kontantvloeiprobleme osboere onder druk, wat beteken selfs sterk kommersiële bulle behaal nie goeie pryse nie.
Dit volg nadat onlangse simmentaler-, simbra- en brahmaan-telersveilings gekenmerk is aan goeie koperskrag, met ’n simmentaler-bul van die teler Kaspar Günzel van Grootfontein wat vir ’n rekordprys van N$200 000 op die Hollard Sim Xtravaganza-veiling verkoop is.
Die bul TG 20-15 is aan Rudi Lemcke van Botswana verkoop, met sterk mededinging deur Namibiese telers.
Daarbenewens is die hoogste prys van N$250 000 betaal vir ’n brahmaan-bul van Dirkie Uys by die Nasionale Brahmaan-veiling, wat op 24 Oktober in Windhoek saam met die Nasionale Brahmaan-simposium gehou is. Cobus van der Merwe of St Blaize Brahmans het dié bul gekoop.
Op laasgenoemde veiling was die gemiddelde prys vir bulle N$90 900, met nog ’n bul van Günzel se Makalani-stoet (KG 19-83), wat vir N$175 000 aan die Summerdown Farming Trust of Michael Bronkhorst verkoop is en Niel du Plooy wat N$160 000 vir ’n Porta brahmaan-bul betaal het.

REDES
“Dit is nogal ’n lekker gevoel om so ’n hoë prys te kry,” het Günzel gesê.
“Ek glo die hoë pryse word aangehelp deur die voorkoms van bek-en-klouseer in Suid-Afrika, met boere uit Botswana wat dus nie stoetbeeste uit Suid-Afrika kan aankoop nie. Dieselfde geld vir Namibiese stoetboere – hulle moet nou genetiese materiaal plaaslik verkry,” het Günzel aan AgriMonitor gesê.
“Ek persoonlik dink dis eintlik ’n baie goeie ding. Plaaslike stoettelers hou baie data by oor hul bulle – hulle doen prestasietoetsing, volg Breedplan en hou teelwaardes by. Suid-Afrikaanse boere doen dit nie noodwendig nie, hulle beskou die bedryf anders,” het hy gesê.
“Dit is moeiliker om die beeste in Namibië te teel, want ons moet onder ekstensiewe toestande boer,” het hy verduidelik.
“Ek glo die Namibiese teelmateriaal, wat mense nou noodgedwonge koop, gaan hul stoeterye baie bevoordeel,” het hy gesê.

REKORDPRYS
Oor TG 20-15 wat ’n nuwe rekordprys behaal het, sê Günzel die bul was struktureel baie korrek, het goeie teelwaardes gehad en is oor die algemeen ’n bul van hoë gehalte. Hy sê mededinging tussen kopers het die bul se prys opgejaag.
“Die mense het baie potensiaal in die bul gesien en dat hy goed in hul kuddes sal vaar. Daarbenewens is sy voeromset ook getoets en was dit goed,” het hy gesê.
Günzel sê telers het goeie stoetbulle nodig en is bereid om daarvoor te betaal, maar die kommersiële bedryf en mense wat met speenkalwers boer, verkeer onder erge druk met die huidige swak pryse wat op veilings behaal word.
“In jare wat kommersiële bulle nie goed verkoop nie, maar daar darem uitskieterpryse is vir stoetbulle, laat voel dit jou jy is darem op die regte pad. ’n Mens kan moedeloos raak as jy veiling toe gaan en nie jou bulle verkoop kry nie.
Hy bedank kopers wat die veilings so goed ondersteun, midde moeilike tye.
[email protected]