Stampriet aan die skou!

Frank Steffen
Die Stampriet Landbouskou is sedert die afgelope Donderdag in volle swang, met verskeie stuks kleinvee wat vir die skou, veiling en slaglamkompetisie ingeskryf is.
Burger Harmse, die voorsitter van die Stampriet-boerevereniging, het in ’n onderhoud vertel die skou het mettertyd gegroei tot een van die grootste kleinveeskoue – indien nie die grootste nie – in Suider-Afrika.
Kleinveeboere sal met verskeie kleinveerasse skou, naamlik Persie-, Van Rooy-, Damara- en dorperskape, boerbokke en meer.
Die skou open daagliks om 08:00 en môre sal die “Kampioen van Kampioene” gekroon word. Donderdag kan belangstellendes ’n inligtingssessie oor antibiotika bywoon, terwyl die ooiveiling ná die middagete sal plaasvind.
Hierdie skou bied meer as net lewendehawe – by die stalletjies vind jy alles van jag- en boerderytoerusting tot elektriese omheining en selfs die ideale paar vellies. Die skou kom Vrydag tot ’n einde – wanneer die ramveiling ook aangebied sal word.