Stryd teen wildstropers duur voort

Frustrasie met hofsake
Van die kwessies is landdroste met ontoereikende inligting, strafregtelike sake wat verkeerdelik hanteer en benader word en dokumente wat eenvoudig verdwyn.
Francoise Steynberg
Die Namibië Landbou-unie (NLU) onder die vaandel van sy Joint Crime Prevention Forum (JCPF) het sy frustrasie met hofsake as ’n dringende kwessie met ’n regskenner opgeneem.
Die voorsitter van die JCPF, Thinus Pretorius, het derhalwe ’n verklaring onder eed rakende klagtes aan die landdroskommissie oorhandig.
“Dit spreek die onbehoorlike optrede van ’n landdros en wanadministrasie van geregtigheid in ’n landdroshof aan.”
Dit volg ná ’n artikel, “Gewoontestropers weer op vrye voet”, in Republikein gepubliseer is waarin berig is dat twee wildstropers, Ashley Eiseb en Hermanus Kharugab ingevolge ’n uitspraak in ’n hersieningsaansoek in die hoërhof in Windhoek einde Januarie vrygelaat is.
Regters Boas Usiku en Naomi Shivute het die skuldigbevindings en vonnisse teen beide mans tersyde gestel en beveel dat hulle uit aanhouding vrygelaat moet word.
Die regters glo die voorsittende landdros, wat die mans skuldig bevind het nadat hulle skuldig gepleit het, het ’n fout begaan toe sy waterbokke as jagwild, asook gemsbokke en koedoes as beskermde wild bestempel het.
Dit is juis andersom – gemsbokke en koedoes is jagwild terwyl waterbokke beskermde wild is.
Die regters het in hul gesamentlike uitspraak verduidelik dat dié verwarring die landdros se ondervraging belemmer het en dat die landdros se skuldigbevinding verkeerd is.
“Hierdie en soortgelyke koerantopskrifte weerspieël die voortdurende stryd waarmee produsente elke dag te kampe het. Die NLU is deeglik bewus van die omvang van kriminele elemente in ons gemeenskap en die frustrasie van ons boere om hierdie euwel te takel.”
Volgens die NLU is boere se lys van frustrasies lank: Landdroste met ontoereikende inligting, strafregtlike sake wat verkeerdelik hanteer of benader word, dokumente wat eenvoudig verdwyn, oortreders met meer as een identiteitskaart, en nog vele meer.
“Boere, grondeienaars en die Namibiese polisie sukkel reeds om misdadigers vas te trek en in die hof te laat aankla, en kan nie bekostig dat skuldigbevindings tersyde gestel word en misdadigers vrygelaat word weens die onbehoorlike optrede van landdroste en aanklaers wat verwarring skep en die reg in hofsake verkeerdelik toepas nie,” sê die NLU.
[email protected]