Weiding skaars, ook vir wild (Agri Monitor)

Voeruitgawes hoog
Sekere streke in die land worstel met uitdagings soos onvoldoende reënval en weidingskwessiesm - vir vee en wild.
Francoise Steynberg
Talle vee- en wildboere in Namibië is bekommerd oor die swak reënsoeisoen en trek reeds swaar weens die voortslepende droogte in sommige streke.
Sekere streke in die land worstel met uitdagings soos onvoldoende reënval en weidingskwessies.
Volgens die Namibiese Weidingsverslag vir Januarie, sluit die droogste gebiede in groot dele van die Omahekestreek, westelike en sentrale dele van die Hardap-streek, die meeste van die Khomas- en ||Kharasstreek, westelike dele van die Kunene-streek, en die verre oostelike en suidelike dele van die Otjozondjupa-streek.
Tydens 'n vergadering wat in Desember 2023 tussen die Landbou Produsente Organisasie (LPO), veeprodusente en die direktoraat van veeartseny in die landbouministerie plaasgevind het, is bevestig dat hulle die dringendheid van boere se situasie met die droogte verstaan, veral in die Suide.
In die Ooste in die Gobabis-distrik sê wild- en veeboer Gerrie Odendaal reën is skaars.
“Ons het nog net sowat 80 mm reën gekry, wat ‘n afname van 50% is. Hierdie tyd van die jaar het ons gewoonlik reeds reënval van tussen 150 mm en 200 mm gekry,” het hy gesê.
Odendaal sê Namibië kry nie landwye reën nie, dit reën net kol-kol.
“By een pos op die plaas val daar ‘n goeie reënbui en op ‘n ander deel net 2 mm. Ons kort ‘n reënbui van 80 mm reën wat wat oor 80 km strek.
“Ons trek maar swaar, die bosse het darem gebot, maar verder is dit taai.”
Odendaal sê byna al sy wild moet gevoer word.
“Dit is net om hul pense vol te kry. Grasvreteres soos hartebeeste, blou- en swartwildebeeste en gemsbokke kry swaar. Vir die blaarvreeters soos koedoes en elande is daar redelik kos vir hulle met die bosse wat bot.”’
Hy sê sy voerrekening vir beide sy beeste en wild beloop tussen N$75 000 en N$100 000 per maand. Hy voer al sedert Oktober 2023.
“Om te voer is baie hard op ons boere. Ons het nou vet beeste en ons het darem redelike pryse gekry, maar dit is maar net genoeg om alle onkoste te dek.”
Odendaal se plaas is 16 000 hektaar groot, maar in middel Oktober het hy ‘n groot terugslag gehad toe 6 000 hektaar in ‘n veldbrand vernietig. Die stres was so erg dat hy boonop ‘n ligte hartaanval gehad en in ‘n Windhoekse private hospitaal gehospitaliseer moes word.
Odendaal sê November 2023 was ‘n moeilike maand vir hom met sy skape wat weens die droogte net gaan lê en gevrek het.
“Ons trek nou rond met die skape,”het hy gesê.
Een voordeel is dat wildstropery die afgelope tyd doodstil is. Odendaal se plaas het al telkemale onder wildstropers deurgeloop. Hy is egter woedend oor die vrylating van die veroordeelde renosterstroper Jackson Babi wat verlede week uit die tronk vrygelaat is nadat hy 'n boete van byna N$230 000 betaal het. Odendaal het aan Agri Monitor bevestig dat hy 'n siviele eis teen die selfverklaarde profeet gaan instel.

RHINO MOMMA VOER OOK
Jaco Muller van die Rhino Momma Project in die Noordweste sê hy voer al sedert Junie 2023 sy wild.
“Ek het nou minder begin voer, want ek het al ‘n bietjie reën gehad,” het hy gesê.
“In Oktober, November en Desember verlede jaar het ek my wild 60 bale of te wel 1,4 ton voer per dag gevoer wat 1 800 bale per maand is.”
Gelukkig het Muller landerye waar hy self lusern produseer.
“Ek moes een vrag voer koop. As ‘n vrag lusern aangekoop word, sou dit my N$125 000 per maand gekos het, die vervoeronkoste uitgesluit,” het Muller verduidelik.
Die afgelope naweek se buie het egter opnude hoop onder boere laat opvlam.
"Die Noordweste se reënseisoen begin nou eers en ek is baie positief oor die reënvooruitsigte," het Muller gesê.

[email protected]