Kenia-senter se skorsing weens dagga uitgedien
Wêreldrugby se saak is afgehandel teen die Kenia-buitesenter Bryceson Adaka, wat vir ‘n positiewe toetsuitslag vir die gebruik van dagga verhoor is.
Adaka was ‘n lid van die Kenia-span wat in Julie verlede jaar in Uganda se hoofstad Kampala in die Rugby Afrika-bekertoernooi (ter kwalifisering vir die 2027 Wêreldbeker in Australië) meegeding het.
Die Keniane het op dag een teen Uganda gewen (32-24), maar is in die semifinaal deur die uiteindelike wenner Zimbabwe uitgeskakel (23-29) en is daarna ook in die bronsfinaal deur Algerië geklop (5-15).
Adaka is ná die Zimbabwe-wedstryd (13 Julie) getoets en is op 19 Augustus oor sy positiewe uitslag ingelig.
In die speler se skriftelike verduideliking en latere tugverhoor het Adaka getuig hy was ‘n laat insluiting in die spelersgroep, en dat hy tydens die periode tussen 28 Junie en 2 Julie by sy huis in Kenia, ná afloop van ‘n nasionale oefenkamp, saam met ongeïdentifiseerde medespelers dagga gerook het.
Die speler se aanvanklike verweer was dat sy inname van die verbode middel gedurende ‘n tydperk van persoonlike finansiële bekommernis as ‘n broodwinner en vader was, en ook volgens hom gedurende ‘n “buite kompetisie” tydperk.
‘n Dokter is betrek om te getuig oor die waarskynlikheid van die hoë vlak van THC in die urinemonster (424 ng/ml, teenoor die verbode vlak hoër as 150 ng/ml vir “binne kompetisie”). Die dokter het die speler se weergawe van die datum van inname in twyfel getrek, maar kon nie wetenskaplik bevestig of die dagga op ‘n datum nader aan die wedstryddag ingeneem is nie.
Die tugkomitee se meerderheid-bevinding het Adaka se stelling aanvaar dat hy nie op die dag van die wedstryd dagga ingeneem het nie, en ook nie ‘n gereelde gebruiker is nie. Minstens een lid van die tugkomitee het egter die siening uitgespreek dat die speler nie oop kaarte oor sy inname van die verbode middel gespeel het nie.
Kenia se spanbestuurder het getuig dat die spelers hulle in Kampala meestal in ‘n streng gereguleerde omgewing en tydskedule bevind het; dat Adaka ‘n lid van die leiersgroep was en dat hy nie onder verdenking vir die inname van dagga was nie.
Die skorsing van drie maande wat vir Adaka opgelê is, is tussen 19 Augustus 2025 en 18 November 2025 uitgedien. Die volledige verhoordokumente is verlede week op Wêreldrugby se webblad KeepRugbyClean gelaai.


