Net ‘n hand vol Namibiërs in Varsity-geselskap
Net vyf Namibiese rugbyspelers het hulle in spelersgroepe bevind van die agt Suid-Afrikaanse universiteitspanne wat in die pas afgelope Varsitybekerreeks meegeding het.
Die haker en flank Armand Combrinck het vir die tweede opeenvolgende seisoen vir die Maties gespeel, wie se aanslag in die semifinaal geëindig het toe die Pukke hulle op Potchefstroom met 50-10 uitgeskakel het. Verlede jaar het die Stellenbosch-span in die eindstryd teen die Ikeys verloor.
Die losskakel en senter Van der Merwe Tromp (tevore van Windhoek Affies en die Namibiese o.20-span) was vanjaar vir die eerste keer in die Pukke se Varsitybeker-groep, maar het beperkte speelkans teenoor die klub se meer gevestigde spanlede gekry.
Binnesenter Freddie Dreyer en slot H.J. de Beer het beide in hul tweede seisoen by die Shimlas speelkans gedurende die kompetisie gekry. Die Shimlas het vanjaar sesde in die kompetisie klaargemaak en het dus nie tot die semifinaal deurgedring nie.
Dreyer sê hy en De Beer berei nou by die Shimlas voor om in Bloemfontein se stadsliga mee te ding ter voorbereiding op die USSA-toernooi einde Junie. “Ek sal heel moontlik volgende jaar weer Varsitybeker speel.”
Op provinsiale vlak het Dreyer tevore gereeld in die Cheetahs se o.20-groep gespeel, maar hy het intussen dié vlak ontgroei en is nie by die unie se senior groep nie. “Dis tans my laaste jaar met my studies, so ek fokus eers daarop na die Vodacombeker,” sê Dreyer.
Die stut Ian Klitzke, wat ook twee jaar gelede vir Namibië o.20 gespeel het, was ook vanjaar in die eerstespangroep van die Sentraal Universiteit van Tegnologie (CUT) se Ixias wat laaste van die agt spanne in die Varsitybeker geëindig het.
Van die vyf Namibiërs is Combrinck (sedert 2024) die enigste wat reeds toetsrugby onder Allister Coetzee en sy opvolger Jacques Burger gespeel het. Dreyer is die enigste van die vyf wat nie 'n kans in die nasionale o.20-span se mededinging in Rugby Afrika se O.20 Barthés-toernooi gekry het nie.
In 2025 se Varsitybeker was ook vyf Namibiërs betrokke – dieselfde name as vanjaar, afgesien dat Oela Blaauw (skrumskakel en heelagter) in 2026 nie meer by die Universiteit van Johannesburg was nie, terwyl Tromp die Pukke se groep gehaal het.


