PW Steenkamp groet as legende van Pole se ‘Hurricanes’
Die 28-jarige Namibiese losskakel PW Steenkamp het ‘n treffende afskeidsboodskap op sy sosiale media gelewer en bekend gemaak dat sy hoogs suksesvolle tyd by sy Poolse klub Orkan Sochaczew tot ‘n einde gekom het.
By navraag van die koerant wou Steenkamp nog nie sy volgende skuiwe of planne verklap nie, maar het gesê sodra hy die amptelike vrystelling van sy klub verkry het, sal hy ‘n aankondiging op sosiale media doen.
Sedert die Ekstraliga in 1957 op die been gebring is, was Orkan Sochaczew (ook bekend as die Hurricanes in Pools) se beste eindposisies die derde plekke in 1984 en 2010.
Die aankoms van Steenkamp, wat sy rugbyvernuf by Privaatskool Elnatan en die Universiteit Johannesburg in die Varsitybeker geslyp en ook Namibië vanaf skolevlak en o.20-vlak tot in toetsrugby verteenwoordig het, in 2021 was egter die keerpunt.
Aangedryf deur hul spelskepper en puntemasjien het Orkan Sochaczew twee ker die nasionale kampioene geword (2021-2022 en 2023-2024) en ook in die finaal van 2024-2025 verloor.
In sy bekendmaking laas Vrydag het Steenkamp geskryf: “Vyf jaar. ‘n Nalatenskap geskryf in punte, druksituasies, oomblikke waarin wedstryde beklink is en trots in ons span Orkan.
“Die laaste vyf seisoene was meer as bloot rugby – dit was jare van groei, opoffering en geloof.
“Elke wedstryd het eise gestel. Elke skop, elke punt onder druk, het ‘n verantwoordelikheid gedra. En elke seisoen het sy merk gelaat.
“Om vir vier opeenvolgende seisoene die voorste puntemaker (in die Poolse Ekstraliga) te wees, meer as 1 000 punte aan te teken en ook in die huidige seisoen die puntevoorloper te wees, is iets wat ek nie ligtelik opneem nie. Dit getuig van konsekwentheid, dissipline, harde werk en vertroue ... die vertroue van my spanmaats, afrigters en ‘n klub wat vir my ‘n verhoog gegee het om op te presteer.
“Twee goue medaljes, een silwer en twee brons vertel die storie van Orkan se laaste vyf seisoene, en ‘n nuwe rekord vir die meeste punte in ‘n Ekstraliga-wedstryd. Dis bevredigend om te kan terugkyk op die reis van waar ons klub begin het, naby die onderpunt van die tabel, na hoe ons gegroei en vertroue en samehorigheid gebou het, ‘n broederskap. Die sweet, harde werk elke dag, die konsekwentheid.
“Om van onder af te verrys en ons pad tot bo oop te veg en kampioene te word – die sukses wat ons oor die laaste vyf jaar gebou het, is iets baie spesiaal en wat ek diep koester.
“Orkan Sochaczew – ‘dziękuję za wszystko’ (dankie vir alles).
“Dankie dat julle in my geglo het, vir die geleentheid, en dat julle deur dik en dun by my gestaan het.
“Die klub het ‘rodziną’ (familie) geword – meer as net ‘n span. Die trots in die span se kenteken, die mense en die reis sal my altyd bybly.
“Dankie aan Pole vir ‘n wonderlike vyf jaar. Wonderlike land, wonderlike mense, wonderlike herinneringe.
“Aan die rugby-ondersteuners – reën, koue, wen of verloor, julle was altyd daar. Julle energie en dreunsang en ondersteuning beteken meer as wat julle besef. Ek het dit saam met my gedra elke keer as ek op die veld gegaan het.
“Die stryd het ons gevorm. Die broederskap definieer ons. Hierdie hoofstuk is afgesluit, maar die nalatenskap leef voort en ons kyk met hoë verwagtinge vorentoe. Orkan ‘na zawsze’ (vir altyd).”


