PW Steenkamp ‘n aanwins vir Russiese kampioene
Ná vyf suksesvolle seisoene in Poolse klubrugby is die Namibiese losskakel en heelagter PW Steenkamp opgewonde om die volgende hoofstuk van sy loopbaan as ‘n professionele rugbyspeler te begin.
Rusland se kampioenklub Strela Ak Bars, gesetel in Kazan, het reeds die aankondiging gedoen dat Steenkamp tydens 'n oefenkamp in Suid-Afrika by hul span aangesluit het.
Strela se afrigter is JP Nel, die voormalige senter van die Blou Bulle wat later ook by FNB Wanderers en die Welwitschias afgerig het. Steenkamp sluit aan by hul gevestigde Suid-Afrikaanse skakelpaar Kobus Marais (tevore van die Airlink Pumas) en Deon Carstens (Maties en Boland Kavaliers).
Johann Tromp (35), wat in die 2015 en 2019 Wêreldbekers vir Namibië as heelagter en vleuel gespeel het, is ook ‘n gevestigde figuur by Strela vandat Nel in 2023 met sukses daar begin afrig het.
Alfred Khisamof, direkteur van Strela, het gesê: “Die losskakelposisie is baie belangrik – dis die persoon wat die spel orkestreer en die span se dinamika op die veld bepaal. Ons het diepte in hierdie posisie kortgekom, en ons is bly dat ons dit kon versterk deur Pieter in te bring.
“In Pole was hy vir vyf seisoene sy klub (Sochaczew Orkan) se toppuntemaker en het hy meer as 1 000 punte aangeteken. Ons verwag dat hy ons agterlyn sal versterk en homself by Strela Ak Bars sal bewys.
“’n Belangrike faktor is dat ons hoofafrigter, JP Nel, in Namibië saam met hom gewerk het; dit sal sy aanpassing vergemaklik en die afrigters help om beter te verstaan hoe om hom te gebruik.
Steenkamp het volgens Strela Ak Bars se webblad gesê: “Ek is verheug oor die geleentheid om by die klub aan te sluit en 'n nuwe hoofstuk in my loopbaan en lewe in Rusland te begin.
“Ek is geïnspireer deur die uitdaging wat voorlê, en ek is van plan om elke dag alles vir die span en sy doelwitte te gee. Ek kan nie wag om die veld vir Strela Ak Bars te betree nie.”
Die 28-jarige PW Steenkamp is op 11 Desember 1997 in Mariental gebore. Gedurende sy professionele loopbaan het hy vir die Universiteit van Johannesburg en vir Sochaczew Orkan (Pole) gespeel, en het ook die Namibiese nasionale o.20- en senior toetsspan verteenwoordig.
In die Poolse Ekstraliga het hy bygedra tot Sochaczew Orkan (gestig in 1957) se enigste twee nasionale titels (2021-2022 en 2023-2024). Hulle het ook in die finaal van 2024-2025 verloor.
Steenkamp het sy Orkan-loopbaan met 1189 punte afgesluit, wat 61 drieë ingesluit het.
• Die Namibiese slot en flank Johan Retief het ook verlede jaar in die Russiese Rugbykampioenskap begin speel en is steeds by Krasny Yar Krasnoyarsk in Siberië gekontrakteer.


