Skuiwe tussen klubs hou 2026-vooruitsigte interessant
Verwisselinge in personeel sal ‘n faktor wees vir verskeie spanne wanneer nog ‘n opwindende en onvoorspelbare seisoen in die Namibië Rugby-unie se premierliga die naweek afskop.
Anders as verlede jaar word teruggekeer na die gebruiklike tuis-en-weg dubbelrondte formaat – ‘n skuif wat grootliks verwelkom word.
Heelwat verskuiwings het tydens die afgelope afseisoen plaasgevind met sommige klubs wat egter nog ‘n bietjie spook om te verseker dat al hul aanwinste se papierwerk op datum is om in die liga se afskopnaweek ingespan te kan word.
Uit die nege klubs in die premierliga het FNB Reho Falcon die loslootjie om sy openingswedstryd eers op 18 April te speel, met vier wedstryde wat môre wag.
Op Walvisbaai
Die verdedigende titelhouer FNB Kudus sal Saterdag in sy vesting by die Jan Wilken-stadion op Walvisbaai teen die besoekende Rooi Bulle van Rehoboth uitdraf.
Kudus se direkteur van rugby, Roger Thompson, het die gewese kaptein Cameron Langenhoven as die nuwe hoofafrigter aangestel. Sy voorganger Shaun White het weens werkverpligtinge na Windhoek verhuis en lewer nou sy insette by United.
Kudus het in die afseisoen voordeel getrek uit heelwat hoëprofiel aanwinste – insluitend Denzo Bruwer (losskakel/heelagter van FNB Wanderers en Namibië), Adriaan Ludick (slot van Namibië wat klubrugby in Frankryk en Roemenië gespeel het), die senters Xavier Mouton (United) en Dylan Izaaks (FNB Western Suburbs) en flank/slot Sheron Rossouw (Wanderers).
Kudus se blink jong losskakel Michael Koopman het egter ‘n kans aangegryp om sy eerste seisoen oorsee te gaan speel toe die Poolse klub Lechia Gdańsk op sy knoppie gedruk het.
Die vleuel Dolano Vries keer terug na sy vorige klub Rehoboth nadat hy in 2025 vir Kudus gespeel het.
Dilhen Daries, Mike Eliaser en Tony Izaaks is voorspelers wat vanaf Reho Falcon na Rehoboth verskuif het.
Die Rooi Bulle se afrigters vir 2026 is Brian Titus en Patrick Ludick, wat gemotiveerd is om die herboufase van die klub met ‘n jong groep aan te pak en ‘n stewige grondslag vir latere sukses te lê.
By United
Die derby om die Neels Dodds-trofee sorg altyd vir ‘n luisterryke en spannende botsing tussen United-rugbyklub (nou sonder sy jarelange hoofborg Trustco) en FNB Wanderers.
Die blitsige jong vleuel Jurgen Meyer se verskuiwing vanaf Wanderers na United is een wat die Filistyne se ondersteuners redelik opgewonde behoort te maak.
Darryl de la Harpe, afrigter van Wanderers, sê die stut Herschell van Wyk en haker Obert Nortje het hul rugbystewels opgehang, terwyl die klub se speler van die jaar 2025, die veelsydige agterspeler Danie van der Merwe, weens ‘n skoueroperasie waarskynlik die hele seisoen gaan misloop.
Danco Burger is ook uitstedig en sal nie teen United speel nie, terwyl skrumskakel Jacques Theron ook nog van ‘n besering herstel.
Kistings Minyoi, lywige losvoorspeler van Unam, is egter een van verskeie nuwe gesigte op die oefenveld by Wanderers.
Afrigter Herman Lintvelt se United-span word deur die senter DJ Holtzhausen aangevoer. In die voorseisoen het die bloues koning gekraai in die Castle Lite United tienmantoernooi, maar dis geen geheim nie dat die 15’s-liga ‘n perd van ‘n ander kleur is.
• In vandag se episode van Gooi Kole gesels ons om die braaivuur met Bakkies Rossouw (hulpafrigter van Wanderers) en Thehard Lintvelt (voorspeler van United).
• Die derby by Gemsbokpark sal môre Sport Wrap TV se uitsaaiwedstryd op NTV en https://oneuptwo.com wees (vanaf 15:30).
Op Grootfontein
FNB Unam se aanslag begin met ‘n wegwedstryd in die noorde teen FNB Grootfontein, wat opnuut propvol selfvertroue sal wees ná hul verowering van die JSB Gold Cup-trofee in die tweede helfte van 2025.
Wikus Jacobs, kaptein van FNB Grootfontein, sê hul spelersgroep bly grootliks onveranderd. “Jahzeel Marais (senter) speel nie meer rugby nie en Jano Otto (stut) het na United in Windhoek teruggekeer.”
David Philander sal as afrigter graag sy stempel wil afdruk om Unam se opwindende speltempo te vestig waarvoor die klub bekend geword het.
Quirione Majiedt, Unam-vleuel wat hom aanvanklik by Kudus sou aansluit, is onlangs ook deur die Poolse klub Budowlani Lublin as ‘n aanwins onthul.
Kragmetings tussen Unam en Grootfontein verwag altyd aan die hoë verwagtinge.
Op Swakopmund
FNB Dolphin het Eugene Jantjies uit sy afrigterspan aan sy buurklub Kudus afgestaan, maar Hauta Veii se manne het hul gereed gemaak om môre die aankoms van FNB Western Suburbs onder afrigting van Jood Opperman te hanteer en om in die komende seisoen hul man vierkantig te staan.
Beide klubs, soos die meeste van hul eweknieë, sou eers gisteraand op die oefenveld hul finale wedstrydgroepe bevestig wat teen druktyd nog nie aan die koerant beskikbaar gestel was nie.


