Wanderers se toppryse vir 2025 aan Danie en Astrid
Danie van der Merwe en Astrid van Lill is aangewys as Sportman en Sportvrou van die Jaar by die FNB Wanderers Rugbyklub se toekennings vir die 2025-seisoen.
Wanderers se eerste manspan het verlede jaar onoorwonne deur die NRU-premierliga geseil totdat hulle in die eindstryd deur FNB Kudus geklop is.
In die tweede helfte van die seisoen het die Wit Hingste weer die eindstryd van die JSB Gold Cup gehaal, maar is opnuut deur 'n vasberade FNB Grootfontein weerhou om hul hande op die trofee te kry.
Intussen het die Wanderers Bokkies hul seisoen op 'n hoogtepunt afgesluit toe hulle die JSB Gold Cup-vroue-eindstryd beklink het, wat die lang onoorwonne vertoningslys van die Unam Steenbokkies beëindig het.
Namibië o.20 se veelsydige agterspeler Schalk (SW) Kuhn is as die spelers se speler van die jaar aangewys. Kuhn, wat hoofsaaklik as skrumskakel en senter gebruik is, het nóg twee trofeë ingepalm, naamlik as die beste junior speler (vir spelers in hul eerste jaar by die klub) sowel as beste opkomende speler.
Danie van der Merwe is gedurende 2025 as kaptein van sy klub se eerstespan aangewys. Hy het ook op nasionale vlak deurgebreek met sy toetsdebuut teen Italië in Windhoek.
Vir 2026 is die vooruitsig vir Van der Merwe dat hy waarskynlik die hele seisoen sal misloop, omdat hy binnekort ‘n skoueroperasie moet ondergaan.
In sy reaksie het Van der Merwe gesê die toekenning is ‘n groot voorreg, maar ook te danke aan die bydrae van sy spanmaats sonder wie dit nie moontlik sou wees nie.
Selfs in sy afwesigheid is hy opgewonde oor die vooruitsigte vir nog ‘n suksesvolle 2026 vir Wanderers.
As Sportvrou van die Jaar het Astrid van Lill lof uitgespreek vir die rol van die afrigter van Wanderers se vrouespan, Janice Beukes.
Van Lill het uitgewys dat die getalle by die oefenveld belowend lyk en dat hulle die harde werk insit in die opbou na die tradisionele eerste geleentheid van die seisoen – Trustco United se tien-aan-‘n-kanttoernooi geborg deur Castle Lite, wat komende Vrydag en Saterdag (6 en 7 Februarie) voorlê.
Wanderers het intussen onthul dat Dirk Human, gewese hoofafrigter wat verlede jaar as direkteur van rugby diens gedoen het, vanweë werkverpligtinge nie langer vir dié taak beskikbaar sal wees nie.
Darryl de la Harpe sal as die hoofafrigter aanbly en word deur Gert Henning, Shaun du Preez, Bakkies Rossouw en Rohan Kitshoff bygestaan.
Die volledige lys pryswenners vir 2025:
VROUE
Mees toegewyde speler: Daphne Buseko.
Opkomende speler van die jaar: Francesca van der Merwe.
Junior speler van die jaar: Joana van Staden.
Voorspeler van die jaar: Lourencia Rooinasie.
Agterspeler van die jaar: Dimitha Wagner.
Sportvrou van die jaar: Astrid van Lill.
MANS
Ondersteuner van die jaar: Franklin Nel.
Tweedespan, beste vordering: Kian Fransman.
Tweedespan, speler van die jaar: Phillemon Ndhikwa
Junior speler van die jaar: SW Kuhn.
Mees lojale speler: Reben Botha.
Opkomende speler van die jaar: SW Kuhn.
Mees bestendige speler: Tareekuje (Tolley) Tjipute.
Mees toegewyde speler: André Augustyn.
Spelers se speler van die jaar: SW Kuhn.
Agterspeler van die jaar: Danco Burger.
Voorspeler van die jaar: Edward Drotsky.
Sportman van die jaar: Danie van der Merwe.


