Hoop in ’n Kerskous

Network Television (NTV) in samewerking met Namibia Media Holdings (NMH) stel vandeesmaand die inisiatief Give Hope bekend.
Dit is ’n maandlange liefdadigheidsprojek wat ten doel het om ’n positiewe impak op die lewens van minderbevoorregte Namibiërs te maak. Die inisiatief fokus op vier projekte en duur vanaf 27 November tot 22 Desember.
Die eerste week skep bewusmaking en ondersteuning vir diegene, hetsy die pasiënt of hul gesinne, wat deur MIV/vigs geraak word.
NTV en NMH vat vanaf 4 tot 8 Desember hande met die Round Table 34 se Kersprojek om ’n glimlag op minderbevoorregte kinders se gesigte te sit. Om tot dié inisiatief by te dra, kan ’n spesiale Kersfees-onthou vir hulle geskep word.
Vanaf 11 tot 15 Desember verskuif die fokus na ons vierpootvriende by The Ark, ’n diereskuiling in Omaruru. Die veldtog eindig by die Katutura-ouetehuis waar ’n spesiale verrassing vir inwoners wag. Maak seker jy skakel vanaf 27 November weekliks om 08:00 in op Smell the Coffee op DStv-kanaal 285 en op kanaal 25 op GoTV vir meer inligting oor die projekte.
“Dit was nie ’n maklike taak om die vier begunstigdes te kies nie, aangesien die behoefte in Namibië so groot is,” het Yolanda Nel, Give Hope se projekkoördineerder, gesê.
“Met hierdie inisiatief hoop ons om ’n glimlag op mense se gesigte te sit en hul Kersfees meer spesiaal te maak.”
Nel sê NMH is daartoe verbind om ’n gees van empatie, ruimhartigheid en eenheid in die plaaslike gemeenskap te skep.
“Give Hope is ons manier om ’n betekenisvolle bydrae tot die lewens van diegene te maak wat dit die nodigste het,” het sy gesê.
“Kom saam met ons op hierdie reis en help ons om dit ’n vakansieseisoen van gee en deel te maak en om hoop vir almal te bring. Saam kan ons ’n blinker toekoms vir Namibië skep.”