Klik-klik teen die koue

Henriette Lamprecht
Sommer ’n hele hoop gehekelde blokkies het tydens Knit-a-Bit se tweede hekelmarathon die lig gesien wat verlede naweek in Windhoek plaasgevind het.
Drie-en-twintig vroue, oud en jonk, het van 08:00 tot 16:00 gehekel en gebrei dat die wolle rol.
Die hekelblokkies gaan gebruik word om komberse aanmekaar te sit wat aan uitgekose behoeftige en minderbevoorregtes geskenk sal word. Een kombers bestaan uit 35 blokkies wat elk 20 cm x 20 cm groot is.
Buiten dat Knit-a-Bit ’n gemeenskap bou van mense wat hekel en brei, is die doel ook om komberse vir verskeie gemeenskapsinstansies, soos ouetehuise en skole, te brei en te hekel.
Met al hoe meer jongmense wat saam hekel en brei, is die hoop dat nog meer sal aansluit om Namibië blokkie vir blokkie teen die koue te beskut.
Indien jy graag wil help en betrokke wil raak om die harte en lywe van kwesbare mense warm te maak, kan Alida by 081 128 8447 gekontak word. – [email protected]