Boeremark vier 13 jaar

Iréne-Mari van der Walt
“Geld is nie my baas nie en dit is nie waaroor die mark gaan nie. Ek sal nie sommer die Boeremark uitbrei nie. As jy dit doen, verloor jy die essensie daarvan.”
So sê Esmé Lubbe wat saam met haar man, Gideon, aan die stuur van die gewilde maandelikse Boeremark in Windhoek staan wat vandeesmaand 13 jaar oud is.
Esmé sê die “siel” van die mark is grootliks te danke aan ’n intieme en gemoedelike atmosfeer.
“Daar is ’n kultuur wat klaar geskep is. Talle van die uitstallers sal ná die mark bymekaarkom en net sit en kuier tot wie-weet-watter-tyd.”
Esmé se skoonma se susters, Elza en Kiet van der Westhuizen, het die mark meer as ’n dekade gelede op die been gebring.
“Hulle het in 2011 die idee gehad en eintlik het hulle broer voorgestel hulle moet die mark begin. Beide was lief vir markte en het gereeld verskeie markte besoek.”
Ná Elza en Kiet aan kanker dood is, het Esmé en Gideon die leisels oorgeneem.
“Ek hoop hulle is trots op ons as hulle afkyk,” sê Esmé, wat ook ’n radio-omroeper by Kanaal 7 is en beklemtoon haar geloof is ’n integrale deel van die mark se sukses.
“Ons het van die begin af die mark aan die Here opgedra. Dit het al gebeur dat dit reën en die mark heeltemal verspoel het, maar skielik hou dit op met reën tot net ná die mark!”
Esmé is ’n opgeleide maatskaplike werker en sê sy kan danksy die boeremark haar passie vir mense uitleef.
“Ek sou nie daardie werk kon doen nie; dit is vir my te donker en te diep. Ek geniet dit om ’n verskil te maak met die mark – vir die mense wat daar uitstal en net om vreugde in mense se lewens te bring.”
Dit is juis dié vreugde wat die maandelikse mark vir beide besoekers en uitstallers bring, wat dit alles die moeite werd maak.
“Ek stres my elke keer oor ’n mik, maar dit is lekker om ander mense te help. Baie mense hou markte en ons gun elkeen dit, maar ek dink nie mense verstaan die harde werk en die beplanning wat daarin gaan nie.” – [email protected]