Byna N$5m tydens Radiothon ingesamel
Kanaal 7 se jaarlikse Radiothon: Hoop op die Lug het vanjaar nuwe hoogtes bereik toe ’n rekordbedrag van net oor die N$4,9 miljoen ingesamel is.Namibiërs regoor die land het hande gevat en saam gewys dat gemeenskap en geloof steeds diep spore laat.
Windhoek het met N$870 844.56 die grootste bydrae gelewer, gevolg deur Swakopmund met N$421 000 en Leonardville met ’n indrukwekkende N$417 040. Ander gemeenskappe wat mooi bygedra het is Soutblok (N$307 729.80), Keetmanshoop (N$307 277.40), Mariental (N$253 724.42), Gobabis (N$168 046.82), en Aranos (N$173 065).
“Ons is oorweldig deur die ongelooflike hart en vrygewigheid van ons luisteraars en ondersteuners. Hierdie rekordbedrag is ’n duidelike teken dat God se genade deur mense werk, en ons gee Hom al die eer,” sê Tersia Bindeman, bemarkingsbestuurder van Kanaal 7.
Die geld wat ingesamel is, sal direk gebruik word om noodsaaklike projekte te ondersteun wat lewens verander, families versterk en hoop herstel in gemeenskappe wat dit die nodigste het.
Kanaal 7 bedank elke individu, onderneming en organisasie wat bygedra het deur finansiële
ondersteuning, gebed of tyd.